WAAK TEEN WEGDRYF VAN CHRISTUS AF

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is moontlik vir Christene om geestelik agtelosig te word, vasgevang te raak in biddeloosheid en vir dae aan te gaan sonder om God se Woord te soek. Ja, die Bybel waarsku duidelik dat dit moontlik is vir geliefde gelowiges om van Christus af weg te dryf en dit bied kragtige waarskuwings om te waak teen aan die slaap raak in die middernaguur: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam?” (Hebreërs 2:1-3).

Daar is Bybelse voorbeelde van eens sterk kerke wat op die ou end weggedryf het. In Openbaring lees ons van die Efésiese kerk wat Christus bedroef het deur weg te dryf van hulle eerste liefde af (Openbaring 2:4). Net so, het die Laodicensiese kerk weggedryf na louwarmheid (3:15) en die kerk by Sardis het tot in ‘n geestelike dood weggedryf (3:2). Paulus waarsku die gelowiges in Galásië dat hulle weggedwaal het van die oorwinning van Christus se kruis en teruggekeer het na die werke van die vlees (sien Galásiërs 1:6-7).

Paulus waarsku, “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse” (Efésiërs 5:15).

Hoe kan jy waak teen wegdryf van Christus af en “so ‘n groot saligheid veronagsaam”? Paulus sê vir ons om “ag te gee” op die dinge wat ons gehoor het. Spoedlees deur God se Woord mag ‘n mens dalk ‘n gevoel van vervulling gee, maar die belangriker ding is dat jy “hoor” wat jy lees met geestelike ore. Bepeins die Woord sodat dit in jou hart gehoor word.

Paulus sê, “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie” (2 Korinthiërs 13:5). Hy bemoedig hulle, “As liefhebbers van Christus, toets jouself; neem ‘n geestelike inventaris van jou wandel met Jesus.” Ek moedig jou aan om dieselfde te doen. Hoe is jou gemeenskap met Christus? Waak jy daaroor met alle ywer?