KIES HERE, EK SAL VOLG

Gary Wilkerson

“En die woord van die HERE het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê” (Jonah 3:1). In die bekende verhaal van “Jona en die walvis,” het God Jona beveel om na die goddelose stad Ninevé te gaan en oordeel aan hulle te verkondig, maar Jona was ongehoorsaam en het van die stem van die Here af weggehardloop. In hierdie vers sien ons egter dat God se genade en barmhartigheid na hom uitgereik en hom ‘n tweede kans gegee het.

Wat ‘n seën om te weet dat God geduldig, lankmoedig, genadig, liefdevol en goedhartig is. Maak nie saak hoe dikwels ons ‘n gemors maak, of hoe rebels en ongehoorsaam ons in die verlede was nie, die Woord van die Here kom tot ons ‘n tweede keer, of ‘n derde of vierde keer. Ons Vader skuif nie net sy kinders eenkant toe nie – en Jona is vir ons ‘n ontsaglike les van die verbondskrag van God in ons lewens.

Jona sou baie minder probleme gehad het as hy die eerste keer toe God gepraat het gehoorsaam was. Hy was duidelik begaafd en uitverkore, maar hy het van God se teenwoordigheid af weggevlug, en gemeenskap met Hom afgesny. Let op, dat hoewel Jona gevlug het, het hy die stem van die Heilige Gees in sy ore hoor klink elke tree op sy pad. En toe hy berou gehad en homself verneder het, het die Here weer met hom begin praat: “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê” (3:2). 

God se leiding kan ons soms ongemaklik maak, maar ek moedig jou aan om getrou te wees aan dit waarvoor Hy jou geroep het. Jy sal verskillende seisoene beleef, so wees getrou in elke seisoen. Sê vir God, “Wat U ook al vir my het, selfs al is dit nie presies wat ék kies nie, ek sal u roeping volbring. Kies U en ek sal volg.” Toe Jona God se roeping gehoorsaam het, was daar wonderlike resultate. Ninevé het ‘n massiewe herlewing beleef – ‘n verstommende ontwaking – en, net so, kan jy ‘n kragtige, blye deurbraak in jou lewe ontvang wanneer jy jou ongehoorsaamheid bely en die stem van die Here gehoorsaam!