BEWARING TEEN DIE AFVAL

David Wilkerson (1931-2011)

Die apostel Paulus praat van ‘n groot afval wat oor die aarde kom in die laaste dae. Wat is afval? Dit is ‘n “verwerping van die waarheid wat eens geglo en verkondig is.” Eenvoudig gestel, dit is ‘n afval weg van God se waarheid af. Paulus skryf van die afval wat kom: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf” (2 Thessalonicense 2:1-3).

Ons geestelike vaders in die Nuwe Testament kerk was dienaars wat hulle lewens daaraan gewy het om die evangelie te verdedig. Van die begin af, het die dissipels en apostels die hele raad van God gepredik en Christus as Messias verkondig tot die dae van hulle dood. Die Here het sy gawes en seëninge op hulle neergereën en die kerk het gegroei en het in gees en in waarheid gefloreer.

Uit die wortels van daardie vroeë kerk, het ‘n boom met baie takke uitgespruit wat ons bewegings, denominasies, organisasies en broederskappe noem – soos Baptiste, Metodiste, Lutherane, Pinksterlinge, Episkopale en ander. Die meeste van hierdie takke het ontstaan deur heilige dienaars van Christus, waarvan sommiges gemartel is vir hulle toewyding aan die suiwer Woord van God.

God haat die louwarm evangelie van halwe waarhede wat nou oor die hele aardbol versprei. Jesus het gekom na ‘n wêreld wat totaal afvallig was en sy koms was ‘n rein daad van barmartigheid, onverdiend deur enigeen. ‘n Groot oes van siele moet steeds inkom in hierdie hedendaagse eeu en honger gelowiges van alle nasies sal die stem van die Here herken. Hulle ontwaakte harte sal reageer, “Here, bring my terug na my eerste liefde vir U.”

Indien jy al vir ‘n lang tyd met die Here gewandel het, mag dit nodig wees om jou te herinner om tot Hom te nader en ‘n vernuwing van jou eertse liefde te ontvang, sodat jy nie “afvallig raak” en deel van hierdie groot afval word nie. Geliefde, Hy wag om jou te omhels en jou in ‘n nuwe posisie met Hom te bring.