DIE EEN WAT GEBED VERHOOR

Jim Cymbala

Benewens die beskrywing van God as Skepper, Trooster en Koning, noem die Bybel Hom ook die “Hoorder van Gebed.” Dit is een van die dierbaarste beskrywings van die Here in die Skrif maar die minste bekend:  “O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!” Of meer letterlik, “Hoorder van Gebed, na U sal alle mense kom” (Psalm 65:2).

As God nie ons geroep en gebede gehoor het nie, sou ons wêreld nie ongelooflik eensaam en depressief gewees het nie? Gelukkig is die Here nie een of ander ver weg Skepper wat die wêreld in beweging laat kom het en toe voortgegaan en dit geïgnoreer het nie. Hy is die “Hoorder van Gebed” wat dure voorsiening gemaak het dat sy kinders met “vrymoedigheid na die genadetroon [kan] gaan” (Hebreërs 4:16).

God hou daarvan om ons gebede te verhoor, maar die Bybel spreek van bepaalde beginsels wat ‘n suksesvolle nadering tot Hom bepaal. Net soos God ‘n geordende heelal geskep het met fisiese wette wat dit beheer, so is dit met gebed. Gebed is nie ‘n lukrake toevallige onderneming nie.

Die groot hervormer Martin Luther het met vrymoedigheid gesê dat God niks doen tensy dit in antwoord op gebed is nie. Dit is waarskynlik baie naby aan die waarheid wat die Skrif bevestig. Oor en oor, soos God met sy mense handel, sien ons hierdie siklus:

Doel – Belofte – Gebed

Die Psalmdigter beweer dat die Here se verlossing op hande is, omdat “die bestemde tyd ... gekom” het en dan voeg hy vinnig by dat God “Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie” (Psalm 102:14,18).

Ons moet besef dat die beloftes waarvan ons Bybels oorloop, net in ons eie lewens sal oorloop, as ons dit deur gebed toeëien. God wil hê ons moet veilig voel in ons verhouding met Hom. Hy wil hê ons moet met sekerheid weet dat ons as deel van sy familie die ewige lewe besit. Omdat ons sy kinders is, kan ons met sekerheid in gebed ons behoeftes na Hom bring. Ons kan dieselfde vertroue hê om te vra vir dinge as toe ons vir ons verlossing gevra het.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.