KAN CHRISTENE REIN BLY VANDAG?

David Wilkerson (1931-2011)

Is dit moontlik vir ‘n Christen om rein en skoon te bly in ‘n wêreld vol geweld, onsedelikheid, en korrupsie? Of is dit onvermydelik dat die gees van hierdie eeu die heiliges van God sal uitput en hulle siele tart? Dit het met Lot en sy familie gebeur in Sodom, en dit gebeur met menigtes Christene oral om die wêreld. Die oorweldigende versoekings van hierdie bose geslag het reeds baie Christene laat kompromieë maak en hulle laat oorgee aan goddelose praktyke.

Ware eerlike Christene moet ‘n inventaris neem en hulleself hierdie belangrike vrae vra, “Verander my sedelike waardes? Sluip die goddeloosheid van hierdie eeu in my lewe in? Word ek beïnvloed deur die spervuur van sensualiteit wat ek oral rondom my sien? Ontwikkel ek ‘n aptyt vir wêreldse dinge?”

Boosheid was nog altyd teenwoordig. Die duiwel het Dawid, Jesaja, Paulus en die kinders van God in elke geslag probeer versoek en mislei net so kragtig as wat hy God se kinders vandag wil verslind. Ten spyte van dit alles, het God altyd ‘n oorblyfsel, mense wat getrou bly tot die einde. Die Gees van die eeu het hulle nie oorweldig nie. Trouens, hulle het sterk en heilig te midde van vervolging en boosheid geword.

Hierdie geslag word goddeloos en vuil omdat dit sy geloof in God verloor – en daardie geloof verdwyn omdat die Bybel nie meer ingeneem word as ‘n lewegewende krag nie. Moenie die duiwel blameer nie – ons afvallighede is die gevolg van een ding: gebrek aan gebed en Bybel lees.

Ons moet bid, “O, God, laat my sien hoe koud ek geword het. Laat my weet hoe swak ek is en plaas ‘n nuwe honger na geestelike dinge binne-in my.” Die volgende is God se begeerte vir almal wat leef te midde van goddeloosheid: “Sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:15). Laat jou lig skyn!