Die Hart van God Aanroer

David Wilkerson (1931-2011)

Ons weet wat dit beteken wanneer dit gesê word dat mense “die aanraking van God” op hulle het. Hulle mag eenvoudige manne of vroue volgens die wêreld se standaarde wees, maar hulle was alleen met God en hulle praat met gesag en oortuiging van die Heilige Gees. Die profeet Daniël was so ‘n man.

Daniël was gedissiplineerd, dapper, besonderlik begaafd; ‘n gewone gelowige kan voel dat hy nie teen hom kan opweeg nie. Maar Daniël is ‘n voorbeeld van ‘n vername man wat volkome menslik was en die swakhede van die menslike toestand gehad het. Sy storie is bedoel om ons te leer hoe om God aan te raak – en deur Hom aangeraak te word.

Daniël verteenwoordig God se heilige oorblyfsel in ‘n goddelose tyd, en sy ballingskap in Babel illustreer ons huidige stryd in ‘n hedendaagse Babel. Hy wys ons vandag hoe om te volhard om God te soek totdat sy hand ook op ons is.

As Daniël getrou kon bly aan God in ‘n tyd van afvalligheid en afgodery, kan ons vandag ook, maak nie saak hoe goddeloos die tye word nie. As hy nie net sy geloof kon behou nie maar so besig met die Here kon wees dat God afgekom en Hom aangeraak het, is dit ook moontlik vir ons vandag. Dieselfde God wat Daniël aangeraak het, sal ons aanraak!

Daniël se gebedslewe het hom verander in ‘n man met so ‘n groot geloof dat toe hy in die leeukuil laat afsak is, hy nie ‘n woord geuiter het nie. Sy geloof in God het die bekke van die leeus toegesluit en, in plaas van deur hulle verslind te word, het Daniël gaan slaap en in die Here gerus. Toe hy uit die leeukuil gehaal is, het die die koning sy verlossing aan sy geloof toegeskryf: “So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar 'n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het” (Daniël 6:23).

Wil jy ‘n besonderse aanraking van God op jou hê? Dan moet jy die volgende voorbeeld van Daniël se gebed beskou: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy ... En ek het tot die Here my God gebid” (Daniël 9:3-4).