Geïnspireer om Ywerig te Bid

Jim Cymbala

Hoewel dit noodsaaklik is om die beginsels van regerende gebed te ken, sal begrip daarvan jou nie na ‘n deurbraak lei nie. Trouens, biddeloosheid bestaan dikwels saam met uitgebreide Bybelkennis. Slegs die Heilige Gees kan ons inspireer om effektief te bid, en Hy gebruik verskeie middele om hierdie doel te bereik.

Ernstige gebed word gebore uit ‘n gevoel van nood, uit die wete dat ons God moet vra om in te gryp. Hanna se storie in die Bybel dien as ‘n motivering vir ons gebedslewe. Sy kan die “Eerste Dame van Gebed” genoem word omdat sy die eerste vrou is wie se smekinge in die Skrif opgeteken is.

Hanna het haar man, Elkana, met sy tweede vrou, ‘n onaangename vrou genaamd Peninna gedeel. Hanna se onvermoë om kinders te hê, het haar die fokuspunt van Pennina se beledigings gemaak (sien 1 Samuel 1:3-7). Voortdurend gefolter, met geen nageslag van haar eie nie, huilend en nie in staat om te kon eet nie, het dit gelyk of Hanna vasgevang was in ‘n hopelose situasie. Te midde van haar pyn, het sy nie geweet dat God op die punt was om haar onder al die vroue van Israel uit te kies om ‘n seun, Samuel, te baar wat ‘n profeet sou word en sy afvallige volk sou laat terugkeer na Hom toe. Daarom het sy voor God geween en gebid, “HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ’n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe” (1 Samuel 1:11).

Hierdie gebed, een van die grootste in die Bybel, het nie net Hanna se lewe verander nie, maar ook die geskiedenis van Israel. God voer dikwels sy planne uit deur mense, wat as gevolg van hulle behoefte, gedwing voel om te bid. Dit is wonderlik dat ons dieselfde potensiaal in gebed het as wat Hanna gehad het. Ons “breekpunt” kan lei tot ‘n deurbraak as dit ons aanspoor om God aan te roep. Hanna het vir ‘n seun gevra, maar God het haar soveel meer gegee.

Moenie nog ‘n minuut wag om dít te ontvang wat jy van God nodig het nie. Laat hierdie jou dag wees om op te staan en jou hart met die Vader uit te praat en ‘n deurbraak in gebed te beleef van jou verhorende God.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.