Geloof Wat Uitstap

Gary Wilkerson

“’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom” (Lukas 19:12).

Jesus vertel die gelykenis van ‘n man van adellike afkoms wat sommige van sy diensknegte met somme geld toevertrou het om te bestuur terwyl hy op reis was. Met sy terugkeer, het die meester die diensknegte gevra om rekenskap te gee om te evalueer hoe getrou elkeen in sy opdrag was.

Die eerste dienskneg het verslag gegee dat hy ‘n paar goeie beleggings gemaak en ‘n wins getoon het. “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak” (Lukas 19:16). Hierdie dienskneg was mildelik beloon vir sy wyse rentmeesterskap. Net so, het die tweede sukses behaal en is daarvolgens beloon. Die derde dienskneg het egter veilig gespeel omdat hy sy meester gevrees het, en hy is skerp veroordeel deur die edelman (sien Lukas 19:18-26).

Hierdie gelykenis van Jesus illustreer twee tipes omgewings en twee tipes mense. Een tipe bou ‘n omgewing van geloof, terwyl hy glo dat God in sy midde werk en groot dinge sal doen. Maar die ander tipe verteenwoordig ‘n bediening van vrees waar die Here gesien word as ‘n moeilike slawedrywer.

Die man wat met agterdog lewe, vrees sy gawes sal nie vir God aanvaarbaar wees nie. Hy is oorversigtig en uiters konserwatief. So ‘n bedienaar lewe in vrees en is altyd bang om iets verkeerd te doen. Hy werk hard om sy Vader se liefde te wen, maar het nie genoeg geloof om uit te stap nie. Hy preek goeie preke, maar het geen visie nie.

Jy kan kies in watter omgewing jy wil leef. Die gelowige wat in ‘n geloofsomgewing leef, verheerlik God, maak nie saak hoe haglik sy omstandighede is nie. Hy is vol blydskap en lof teenoor Jesus vir sy goedheid omdat hy weet dat sy sondes weggewas is. Aan die ander kant, is dit jammer om vreesagtige Christene waar te neem wat nie vry genoeg is om hulle liefdevolle Vader volkome te vertrou nie.

Ek moedig jou aan om jou Verlosser te vertrou en die vryheid wat Hy aan jou gee te aanvaar. Hy wil hê jy moet ‘n oorvloedige, oorwinnende lewe in Hom leef, en Hy nooi jou uit om na daardie veilige plek van geloof te vlug vandag!