‘n Rusplek

David Wilkerson (1931-2011)

“Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis” (Hebrews 3:1-2).

Die boek Hebreërs bied ‘n sterk, lewensbelangrike boodskap vir almal wat “deelgenote van die hemelse roeping” is. Dit beteken dat jy hoor hoe die hemel jou roep. Nou al roep die hemel ‘n volk wat vry is van materialisme en die dwaasheid van hierdie wêreld – Christene wat elke oggend wakker word en hoor hoe Jesus hulle na Hom toe roep. Hulle kyk na alles wat hulle omring en roep innerlik, “Jesus, my hart is nie hier nie, my toekoms is nie hier nie. Niks in hierdie wêreld stel my tevrede nie. U alleen, Jesus, is my lewe.”

“[Jesus] wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het” (Hebreërs 3:2). Getrouheid beteken bloot dat God sy Woord aan ons sal nakom. In hierdie sin, moet ons “die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14).

Met verloop van tyd, soos jou beproewings toeneem en die stryd meer intens word, sal jy dalk moeg word. Daagliks, het jy ‘n vyand wat daarop uit is om jou te vernietig; hy is ‘n leuenaar en ‘n verleier. Jesus het gesê, “Die duiwel .... staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie ... omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44).

Satan mors nie sy tyd om vir sondaars te lieg nie; hulle word reeds gevange gehou deur sy misleiding. Nee, hy lieg vir daardie gelowiges wie se hart op die Here ingestel is. Trouens, Satan gebruik sy subtielste, mees oortuigende leuens teen diegene wat vasbeslote is om God se bestemde rus binne te gaan.

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God ... Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus” (Hebreërs 4:9,11). “Om in God te rus,” beteken om ‘n plek van volkome rus in Sy Woord te betree. Dit is ‘n plek van geloof, ‘n volgehoue vertroue dat God met ons is, dat Hy nie kan teleurstel nie, en dat Hy ons tot die einde toe sal deurdra.

Bring vandag tyd deur saam met jou Vader en laat die Heilige Gees jou hart bedien en jou versterk. Vind rus vir jou moeë siel met ‘n volkome oorgawe aan God.