Christus se Heerlike Belofte van Vrede

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het gesê, “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Johannes 14:27).

Talle Christene het bekommerde harte en sommige leef in vrees, heimlik geteister deur paniek, onrus en slapelose nagte. Vir baie, kom en gaan vrede, en dit laat hulle bekommerd, rusteloos en voos van spanning. Sagaria het egter geprofeteer dat die Messias sou kom “dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe” (Lukas1:74-75).

Geliefde, Jesus het na hierdie aarde toe gekom en vir die sondige mens gesterf sodat ons met God kan wandel sonder vrees en sy vrede al die dae van ons lewe kan geniet! Dit sluit in tye van lyding, onrus, beproewing en onsekerheid. Dit beteken beide goeie dae en slegte dae. Dit maak nie saak wat oor ons pad kom nie, ons moet vrede hê.

Jesus is die Vredevors! By sy geboorte, het die engele gesing, “Vrede op aarde” (sien Lukas 2:14) en Hy belowe van Homself, “Dat julle in My vrede kan hê” (Johannes 16:33). Vrede is waaroor die evangelie gaan: “Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus” (Handelinge 10:36).

In hierdie wêreld, sal ons verdrukking, vervolging en vurige beproewings beleef. Ons sal versoek word en om Christus se onthalwe ly. Steeds moet ons Hom met geregtigheid dien, vol vrede en blydskap in die Heilige Gees te alle tye. Paulus se gebed vir alle gelowiges was die volgende: “En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees” (2 Thessalonicense 3:16).

Dink daaraan – vrede in alle omstandighede! Dit is waarlik bonatuurlik maar dit is beskikbaar vir almal wat vrygespreek is deur geloof en na die Verlosser uitreik.