Is Jy Vol Moed?

David Wilkerson (1931-2011)

Ten spyte van al die gepraat in die kerk oor geestelike oorlogvoering, het te veel Christene nog nie geleer hoe om die vyand te weerstaan nie. Trouens, min gelowiges weet hoe om op te staan en te veg en hulle word regte papperds vir die duiwel.

Die boek Rigters sê vir ons, “Maar toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank” (Rigters 6:1-2). Elke jaar teen oestyd, het die Midianiete oor Israel se grond getrek met duisende kamele, skape en beeste wat alles in sig opgevreet en Israel verarm agtergelaat het. Hulle was gedwing om in donker grotte en klam lêplekke te bly, verhonder, bang en hulpeloos. Toe het iets gebeur! Na sewe lange jare hiervan, het die Israeliete na die Here uitgeroep (6:6-7).

‘n Man genaamd Gideon het siek en sat geraak vir die situasie. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en gesê, “Die HERE is met jou, dapper held” (Rigters 6:12). Gideon het hierdie Engel bevraagteken: “Wel, as die Here met ons is, waarom het dit alles met ons gebeur? Hoe lank moet ons dit net verdra? Daar is aan ons gesê ons het ‘n God wat vir ons vaders opgetree het, maar kyk na ons – hulpeloos, en ons leef heeltyd in vrees.” Die Engel het gesê, “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan” (Rigters 6:16).

Gideon het sy leër bymekaargemaak maar toe het God ‘n vreemde versoek gerig: “Stuur elke soldaat wat bang is terug huistoe” (sien 7:3). Met ander woorde, God het vir Gideon gesê, “Ek moet manne van geloof en moed hê! Al die ander moet bid todat hulle ‘n ruggraat ontwikkel het.” Dit het die leër aansienlik uitgedun. Steeds, voor dit alles verby was, het Gideon ‘n leër van sterk, gefokusde, vasbeslote krygers gehad.

Die Skrif beveel ons om op te staan, sterk te wees en die stryd te voer: “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk” (1 Korinthiërs 16:13). Jesus het ons belowe, “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:20). God wil vandag gelowiges hê wat hulle eie stryd sal voer met geloof en moed. Hy sê vir jou, “Waarom vrees jy? Jy kan My vertrou om oorwinning in jou lewe te bring. Jy is sterker as wat jy dink jy is, onthou, Ek is altyd met jou.”