Hoor God Regtig Jou Gebede?

David Wilkerson (1931-2011)

Enige gelowige wat begeer om God te behaag met sy gebedslewe, moet eers hierdie vraag uitmaak: “Hoor God regtig my gebede en sal Hy verhoor?” Hoewel dit voorkom asof dit ‘n eenvoudige vraag is – een wat nie eens behoort gevra te word nie – sal die meeste Christene dadelik antwoord, “Ja, natuurlik glo ek God verhoor my gebede.” Maar die eenvoudige feit is dat talle Christene nie heeltemal oortuig is nie.

Daar is tye wanneer ons voel asof God in ons lewens afwesig is, dat Hy nie na ons smekinge luister nie. Vrae en twyfel bestaan diep binne-in ons en die Here wil dit in ons gees regstel. In Lukas 18:2-8, vertel Jesus ‘n gelykenis van die knaende weduwee en die onregverdige regter om sy dissipels te leer “dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie” (18:1).

In die Joodse gemeenskap, was van ‘n regter verwag om onpartydig te wees, maar die regter in hierdie storie was onbekwaam en ongekwalifiseerd vir die werk. Geregtigheid het defnitief nie geskied nie. Volgens die Joodse wet, het weduwees spesiale beskerming onder die regstelsel geniet, maar hierdie regter het die weduwee wat na hom toe gekom het, geïgnoreer. Sy het nietemin geweier om moed te verloor en het só dikwels voor hom verskyn, dat hy geduld met haar verloor het en haar versoek toegestaan het.

Hierdie weduwee het die geregtigheid wat sy gesoek het, gekry as gevolg van haar volharding! Jesus verduidelik in vers 8 dat as ‘n ongeskikte, goddelose regter op die ou end met geregtigheid verhoor het, hoeveel te meer sal ons liefdevolle, heilige Vader gee wat is reg vir sy kinders?

Talle Christene weet dat God alles het wat hulle nodig het en hulle erken Hy gee om, maar hulle is nie oortuig dat Hy gewillig is om gou te kom om hulle te help nie. As God nie hulle smeking dadelik verhoor nie, verbeel hulle daar is hindernisse en innerlike struikelblokke. En hulle dink aan allerhande redes waarom die Here nie gewillig is om hulle tegemoet te kom nie.

“o, Hoe groot is u goedheid  wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil” (Psalm 31:20). Wees verseker dat God vir jou alles gee wat jy nodig het om vry en seëvierend te wees. Verbly jou in die Here want sy siel verheug Hom in jou. Halleluja!