Die Glorieryke Stem van die Here

David Wilkerson (1931-2011)

Die duiwel doen alles in sy vermoë om sy stem te laat gehoor word in hierdie wêreld. Op een stadium het hy selfs die vermetelheid gehad om Jesus te onderbreek terwyl die Here in die sinagoge gepraat het: “En daar was in hulle sinagoge ‘n man met ‘n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? ... En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit!” (Markus 1:23-25).

Satan het slegs een doel voor oë gehad toe hy hardop uitgeroep het met die stem van hierdie man, en dit was om vrees by die hele gemeente in te boesem. Hy wou hê elke mens binne hoorafstand van sy stem moes glo hy het mag en gesag gehad.

Petrus waarsku gelowiges dat Satan na hulle toe sal kom met ‘n luide stem en vrees probeer inboesem: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). As Satan sy stem bekend maak in hierdie laaste dae en sy mag aan die massas verlore siele vertoon, hoeveel te meer is dit nie vir God se kinders belangrik om hulle Vader se stem te ken nie? Moenie vir een oomblik dink dat die Here niks gaan doen en sal stilbly terwyl Satan brul nie. Jesaja het gesê, “En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor” (Jesaja 30:30).

Van Génesis af tot by die Nuwe Testament, het God sy stem bekend gemaak aan sy volk. Jesus het die voorbeeld van die Goeie Herder gebruik: “Die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit ... hy ... loop ... voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie” (Johannes 10:3-5).

Tydens jou gebedstyd kan jy dalk wonder, “Hoe kan ek die stem van God onderskei? Hoe kan ek seker wees dit is God wat praat?” Een sleutelfaktor is om nie op die stem van ‘n ander mens te vertrou nie, maak nie saak hoe jy sy of haar lering bewonder nie. Gaan direk na die Here en hou gemeenskap met Hom. In sy teenwoordigheid, alleen met Hom afgesonder, sal jy Hom leer ken – sy geur, sy weë, sy hart. En jy sal leer om sy soet stem te ken!