Getrouheid Ten Spyte van Ons Mislukkings

David Wilkerson (1931-2011)

“Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (1 Samuel 16:13).

Dawid het ‘n man geword wat goddelik, wys en geliefd was: “En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die Here was met hom” (18:14). Hy was ‘n man van baie gebed wat die Here geprys het soos min mense al ooit gedoen het en die hart van God geseën het met sy liedere en psalms. Dawid was ook ‘n man van groot geloof. Hy het voortgegaan om die reus Goliat te verslaan op pad om ‘n magtige kryger van Koning Saul te word. God se Gees was duidelik op hom.

Na ‘n ruk, het Saul baie kwaad geword vir Dawid en hom met groot woede agtervolg. Dawid moes vlug vir sy lewe en het in grotte weggekruip. Soms moes hy gedink het, “Here, as ek so besonders, gesalf en uitverkore is, waarom is ek dan in sulke diep moeilikheid?” Gedurende hierdie neerslagtige periode, het Dawid ‘n onverstandige besluit geneem en na ‘n dorp genaamd Gad, die tuisdorp van die verslane reus Goliat, gevlug. Omdat hy nie die Here geraadpleeg het voor hy hierdie skuif gemaak het nie, het daar vyandigheid teen hom ontstaan. Hy was gevange geneem en voor Koning Akis gebring, waar hy nog ‘n dwase ding gedoen het. Hy het voorgegee dat hy waansinnig was met die hoop dat sy “waansinnigheid” hom uit die kloue van die vyand sou verlos. Dit was ‘n slegte getuienis vir Dawid se manskappe maar dit het tot ‘n mate gewerk – Koning Akis wou absoluut niks met hom te doen hê nie.

Alhoewel Dawid ontrou was teenoor die Here tydens hierdie episode, was God steeds getrou aan hom! Hy het Dawid nie afgeskryf nie. Self toe hy gemaak het of hy waansinnig was en dwaas opgetree het, het God se ewige plan vir hom voortgegaan.

Het jy al ooit deur een of ander “waansinnige” tyd in jou lewe gegaan? Jy het dalk totale chaos beleef, moed verloor en gesê, “Ek kan dit nie meer hanteer nie!” Jy het volgens jou vlees opgetree en God vooruitgeloop. Maar God het steeds om jou onthalwe gewerk. Hy is altyd aan die werk agter die gordyn; altyd getrou aan sy beloftes en sy plan vir jou lewe.