Vrede Deur Bekering

David Wilkerson (1931-2011)

“My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Psalm 32:5).

Dawid was ‘n man wat geweet het hoe om hom te bekeer. Hy het heeltyd sy hart voor God deursoek en was gou om uit te roep, “Ek het gesondig, Here. Ek het gebed nodig.”

Om jou te bekeer, beteken nie dat jy bloot probeer om dinge reg te maak met die mens aan wie jy verkeerd gedoen het nie. Nee, dit gaan daaroor om dinge met God reg te maak! Hy is die Een teen wie gesondig is. Ja, ons moet om verskoning vra vir ons broers en susters wanneer ons ook al verkeerd teenoor hulle opgetree het, maar nog belangriker, ons moet ons sondes voor God bely. Dawid het gesê, “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig” (Psalm 51:5-6).

Dawid het sterk daarin geglo om hartondersoeke te doen – die moeilike dissipline daarvan om sonde in sy hart uit te grawe. “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die regte weg!” (Psalm 139:23-24). Hy het die Here voortdurend uitgenooi om elke hoekie van sy hart te ondersoek.

Miskien ondersoek jy jou hart op ‘n gereelde basis, maar jy kom van die Gees se werk af en sê, “Dankie tog, ek is rein. Ek het nie meer enige sonde in my nie.” As dit die geval is, geliefde, is jy mislei. Jesaja het bely, “Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle” (Jesaja 59:12). Die profeet het in wese gesê, “Ons weet alles van ons eie sonde af.” Natuurlik weet God wanneer ons verkeerde dinge sê of doen, maar ons weet dit ook.

‘n Groot voordeel van bekering, is om vrede en krag te ontvang. Nadat Daniël met groot angs gevas en gebid het, het Jesus na hom gekom, hom aangeraak en gesê, “Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk” (Daniël 10:19).

‘n Hart wat ware berou het, hoef nooit vir die Here weg te kruip nie, want daar is nie langer enige vrees vir oordeel nie. Wanneer jy jou sonde erken, goddelike berou toon en restitusie doen, sal Jesus na jou kyk, net soos Hy na Daniël gekyk het en sê, “Ek het jou lief en Ek wil vir jou my vrede gee. Staan nou op en wees sterk!”