In God se Genade Gevind

Gary Wilkerson

“En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou” (Lukas 1:26-28).

Toe het die engel ‘n ongelooflike aankondiging gemaak: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (1:30-32).

Maria was ‘n eenvoudige meisie van ‘n afgeleë dorpie. Sy het in ‘n mans-gedomineerde kultuur geleef met min verwagtinge behalwe om ‘n goeie vrou en moeder te word. Dink hoe vreemd hierdie ontmoeting vir haar moes gewees het. Die engel het vir haar gesê dat sy genade by God gevind het, maar baie min in haar lewe het enige genade weerspieël. Dit was egter op die punt om te verander!

Baie van ons is soos Maria. Ons wil graag sien dat ons omstandighede verander – dat ‘n moeilike kind sy doel in Christus moet vind, dat spanningsvolle huwelik herstel moet word tot sy vorige vreugde. Ons wil ook graag ‘n ander geestelike werklikheid in die wêreld rondom ons sien. Toe Maria die omvang van God se beloftes begin verstaan het, het sy ‘n loflied van dankbaarheid gesing: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem” (1:46,48).

Die besoek van die engel was nie een of ander emosionele, eenmalige gebeurtenis vir Maria nie. Nee, dit was ‘n bindende werklikheid wat haar lewe vir altyd verander het. Net so, wanneer jy God se genade vind, lei dit nie net tot ‘n emosionele ommekeer nie. God gee geboorte aan iets nuuts in jou lewe, verander jou pad heeltemal en wek ‘n nuwe lied in jou siel op.

Vandag mag jy dink dat God nêrens is nie, maar sy genade is op jou! Hy gee geboorte aan iets nuuts en verander jou beproewing tot sy eer. Hy hou sy hand oor jou, so vertrou Hom met jou hart, jou familie en jou situasie – en jy sal sy heerlikheid sien.

Tags