Christus se Heerlikheid Kan Nie Weggesteek Word Nie

David Wilkerson (1931-2011)

“Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ’n godeseun” (Daniël 3:25).

Ons is almal bekend met hierdie storie. Nebukadnésar, koning van Babel, het elke leier van sy uitgestrekte koninkryk vir slegs een doel laat kom en dit was om te buig voor ‘n groot, goue beeld en die gode van sy keuse te vereer. En indien enigeen in die land sou weier om te buig, het dit ‘n seker dood beteken! Dit was ‘n algemene praktyk in daardie dae om oortreders van enige aard te straf deur hulle in ‘n brandende oond te gooi. Toe drie jongmans vir geregtigheid opgestaan en geweier het om die koning se dekreet te gehoorsaam, het Nebukadnésar in ‘n woedebui uitgebars. Hy het sy soldate beveel om die vuur sewe keer warmer as gewoonlik te stook en gereed te maak om die afvalliges te braai (lees hierdie verhaal in Daniël 3:1-19).

Hierdie drie Hebreeuse manne, Sadrag, Mesag en Abednego, was geboei en gegooi in ‘n vuuroond, wat so warm was dat die soldate wat opdrag gegee was om hulle in die vuur te gooi, dood neergeval het. Toe die koning egter na die drie gekyk het, was hy verstom oor dit wat hy gesien het. “Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ’n godeseun!” (sien Daniël 3:25).

Hoe kon ‘n heidense koning die Seun van God herken? Dit was omdat Christus se heerlikheid nie weggesteek kan word nie! Waar engele in die Skrif verskyn het, was hulle geklee in wit en het geblink met ‘n hemelse skynsel. Maar hierdie blink Een was nie ‘n séraf nie, dit was Jesus self – en Hy was helderder as die vlam van daardie sewe-keer-warmer vuur.

Geliefde, hierdie getuienis van Christus se teenwoordigheid kom van heidense lippe af. En praat van ‘n lewe-en-dood situasie. Dit was die krisis van ‘n leeftyd – maar Christus het reguit in die vuuroond saam met hierdie manne geloop en hulle gered.

Wat bring Christus in jou krisis in? Dit is om volle vertroue te hê dat Hy in staat is om jou te red en te verlos, maak nie saak wat jy beleef nie. ‘n Vertroue dat maak nie saak wat gebeur nie, jy is in sy hande. Beleef jy ‘n krisis – geestelik, finansieël, verstandelik, fisiek? In jou huwelik? Jou werk? Jou besigheid? Wanneer slegs ‘n wonderwerk jou uit jou hopelose situasie kan haal, sal Jesus kom en saam met jou daardeur loop. Die Seun van die Lewende God kan jou probleem oplos en jou uit jou vuuroond van beproewing red.