Erfgename Deur Genade

David Wilkerson (1931-2011)

“Om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:8-9). Die enigste geregtigheid wat in God se oë aanvaarbaar is, is die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus ons Here. En dit is ‘n geregtigheid wat slegs besit kan word deur geloof.

Die skrywer van Hebreërs stel hierdie waarheid dat hierdie geregtigheid die erfenis van alle ware gelowiges is aan ons bekend. Dit is iets wat Jesus vir ons nagelaat het, ‘n nalatenskap: “Deur geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is” (Hebreërs 11:7). Noag het ‘n erfgenaam geword nie deur ‘n ark te bou nie, maar deur wat hy geglo en verkondig het. Hy het hierdie kennis van geregtigheid, wat God aan hom geopenbaar het, begryp, ‘n geregtigheid wat deur geloof is en daarom het hy ‘n erfgenaam van ‘n volmaakte geregtigheid geword!

Geliefde, jy en ek was ‘n groot erfenis gegee toe Christus opgevaar het van die aarde. Hy het vir ons ‘n titel en ‘n akte gegee van Sy eie volmaakte geregtigheid. Jesus het in absolute armoede geleef op hierdie aarde. Hy het niks besit nie, maar Hy het vir ons rykdomme groter as die diamantmyne van Suid Afrika; groter as die olievelde in die Midde-Ooste; die goud en silwer onder Amerika se berge nagelaat. Jesus het vir ons ‘n erfenis, wat ons ryker kan maak as enige mens op die aarde, gegee – ‘n erfenis wat ons toelaat om onveroordeeld voor God te kan staan!

Ons kan nooit geregtigheid se vereistes nakom om God se wet te vervul nie, dus het Jesus na die aarde gekom en het die wet van God volmaak vervul. Hy het nooit een punt daarvan verbreek nie en Hy het alles uit liefde se suiwer motiewe gedoen. “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matthéüs 5:17).

Is daar enige goeie ding in jou wat daartoe sou lei dat God sy Seun sou stuur om vir jou te sterf? Nee, dit is ‘n daad van volkome barmhartigheid en genade! Deur die krag van die Heilige Gees, laat Hy jou wegdraai van alle ongeregtigheid en bemagtig jou om die geregtigheid wat Hy aan jou toegereken het, uit te leef. Halleluja!