Leef Jou Bestemming Uit

David Wilkerson (1931-2011)

Jou bestemming, in eenvoudige terme, is God se doel vir jou lewe. Dit is jou bestemde of bepaalde toekoms. Ons lees van baie goddelike mans en vroue in die Skrif wat God uitverkies het vir ‘n bestemde werk of bediening maar hulle het op die ou end Sy plan verydel. Hulle het reg begin en het vir ‘n rukkie in die krag van hulle roeping geleef, maar op die ou end het hulle in skande en ongeluk gesterf en God se lewensdoel vir hulle lewens misgeloop.

Saul was so ‘n man. God self het Saul uitverkies om Israel uit die slawerny van die Filistyne te lei. Toe die profeet Samuel vir Saul die eerste keer gesien het, het die Here gesê, “Hier is die man van wie Ek vir jou gesê het: hy sal oor my volk heers” (1 Samuel 9:17). Die Here het in wese gesê, “Kyk mooi, Samuel. Dit is my uitverkorene om Israel te lei!”

Samuel het Saul nie gekies nie en Israel het hom ook nie gekies nie; liewer, God het gesê, “Ek het hierdie man aangestel!” Die Bybel sê van Saul: “En die Gees van die Here sal oor hom vaardig word, sodat jy saam met hulle sal profeteer en in ‘n ander mens verander word” (10:6). Trouens, Saul was verander omdat God sy lewe aangeraak het (sien 10:9).

Hier was ‘n man wat deur God aangestel was, deur wie die Heilige Gees gewerk het, aan wie ‘n gees van profesie gegee was en deur God bestem is om Israel te lei – en God was met hom. Watter wonderliker dinge kon oor hom gesê word? Vir ‘n rukkie het hy sy roeping uitgeleef, in die vrees van God gewandel en groot oorloë gewen. Maar toe hy as koning oor Israel aangestel was, het hy begin om uitmekaar te val. God was egter vasbeslote dat Saul sy dae met die Here se seën sou uitleef en onthou sou word as die man wat Israel uit die slawerny van die Filistyne verlos het. Maar Saul het sy bestemming misgeloop omdat hy begin toegee het aan sy behoefte vir menslike applous en aanvaarding. Hy het kompromieë gemaak om hierdie dinge te verkry en hy het die plan wat God vir hom gehad het misgeloop.

Geliefde, as jy jou bestemming gaan uitleef, is die enigste ding wat jou gaan onderskei, jou begeerte om alle ander in die kennis van Jesus verby te steek. Deur tyd met Hom deur te bring en sy heerlike aanneming gretig te aanvaar, sal jou groot maak en jou in staat stel om voort te gaan om jou roeping uit te leef!