Sorg vir die Behoeftes Langs Jou

David Wilkerson (1931-2011)

Gedurende sy tyd op aarde, was Jesus die verpersoonliking van God se deernis. Die Skrif sê dikwels dat Christus “innig jammer gevoel het” vir die mense wat gely het (Matthéüs 14:14).

Die meeste Christene sou graag wou dink dat hulle deernisvol is. Maar selfs die slegste sondaars word met deernis gevul wanneer hulle van die lyding van kinders hoor. Deernis is nie net jammerte of simpatie nie. Ware deernis dwing ons om op te tree.

Ons lees van Jesus, “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Matthéüs 9:36). Die frase “innig jammer gevoel” beteken hier “aangespoor tot aksie.” So, wat het Jesus hieromtrent gedoen? Hy het nie net gepraat nie. Nee, sy hart was aangeraak en aangeroer oor dit wat Hy gesien het en Hy het ‘n verterende begeerte gehad om dinge te verander.

“En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” (Matthéüs 9:35). Dit was nie een of ander vae teologie nie. Jesus het Hom nie alleen met die Vader afgesonder en gesê, “Vader, stuur arbeiders in u oes in” nie. Jesus het self gegaan! Hy het hande op die melaatses gelê en het innig, prakties, intiem betrokke geraak.

Ons lees, “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Johannes 3:17). As jy rondom jou kyk en menslike behoeftes raaksien, behoort jou deernisvolle hart uit te roep, “God, wat wil U hê moet ek doen?” Ons hoef nie verder as ons eie buurt te reis om behoeftes te vind wat ons kan help aanspreek nie.

God wil hê jy moet deel van sy deernisvolle hart vir die wêreld wees. As jy werklik gewillig is om dit te doen, sal Hy jou behoeftes tot op jou drumpel bring. So, stel jouself tot die Here om gebruik te word en kyk hoe Hy baie deure vir jou oopmaak.