God se Besorgdheid oor Jou in die Laaste Dae

David Wilkerson (1931-2011)

In Openbaring 9 sien ons ‘n waarskuwing wat ‘n wêreldwye inval van sprinkane beskryf: “En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het” (Openbaring 9:3).

Satan self is agter hierdie vreesaanjaende swerm sprinkane. Natuurlik is hierdie insekte nie regte insekte nie, hulle is duiwelbesete, Satan-beheerde mense: “Hulle gesigte was soos die gesigte van mense” (9:7). Die sprinkane word beskryf as soldate: “En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog” (9:9).

Die beeld hier is van ‘n leër demoniese folteraars, pronkend soos perde wat gretig is om te veg. Hulle “vlerke” dui daarop dat hulle uit die lug kan steek en dat daar ‘n dodelike krag in hulle angels is: “En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen” (9:10). Kortliks, al hierdie duiwelbesete mense het die vermoë om te steek, of vergiftig, van die grond af of uit die lug. Dit is geen verborge allegorie nie, dit is ‘n werklike leër.

Die sprinkaanmense word ‘n beperkte tyd gegee om hulle folterende werk te doen (sien 9:5), wat vir ons twee dinge sê: (1) terroriste sal Amerika nie kan vernietig nie en (2) ons moet voorbereid wees teen deurlopende onheil. Die hele wêreld is gehul in ‘n wolk van vrees en, dit is jammer, dit gaan erger word vir diegene wat nie die Saligmaker ken nie.

God se fokus op hierdie oomblik is op sy eie mense; Hy is besorg oor sy kerk hier op aarde. Sy vraag is: “Het my kinders meer vrede en rus, selfs terwyl die sprinkane voort woed?” God se begeerte vir jou is dat jy al jou dae sonder vrees lewe. “Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet” (Psalm 5:12).

Diegene wat God se beloftes vertrou om hulle te bewaar, kan juig en ware rus vind.

Tags