God Sal Nooit Opgee op Jou Nie

David Wilkerson (1931-2011)

“Want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar” (Psalm 37:28).

Wanneer God iemand aanraak en van hom besit neem, is dit vir ‘n leeftyd. Die Here sal nooit dit wat Syne is aan Satan afstaan nie. Jy kan foute maak, misluk of in vernietigende sonde verval, maar wanneer God ons eers besit, sal Hy nooit, nooit moed verloor met ons nie. Ook, as Hy jou besit, berei Hy jou voor vir toenemende bruikbaarheid.

Dink terug aan die tyd toe God na jou toe gekom het en jou siel bonatuurlik aangeraak het. Hy het jou na Homself geroep en jou met sy Gees vervul, terwyl Hy ‘n ooreenkoms met jou gemaak het: “Ek eis jou op. Jy is my eiendom.” Skielik het God beheer van jou lewe oorgeneem en niks sou daardie feit verander nie. Jy het God se gekoopte eiendom geword: “Die gemeente van God ... wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28).

Die Skepper van die heelal het jou met die prys van sy eie bloed gekoop en niks het mag oor daardie bloed nie. Satan self kan probeer om jou in ‘n verskriklike strik te vang, maar net as hy dink hy het jou, sê God, “Nee, duiwel, jy kan hom nie kry nie. Hy is myne. Ek het hom gekoop en jy moet my eiendom laat staan.” God bewaar jou en berei jou vir sy beste voor.

Dawid was ook ‘n man wat deur God besit was. Hoewel hy ‘n reus doodgemaak het, ‘n gesalfde psalmdigter en ’n groot koning was, het hy ‘n verskriklike drang in sy hart gehad. Op die hoogtepunt van God se seën en guns, was hy oorval deur ‘n verskriklike aanval van wellus. Hy het in sonde verval met ‘n ander man se vrou en uiteindelik die vrou se man laat vermoor in die oorlog. Dawid het ontsettende gevolge vir sy sonde gely, maar God het hom deur die hele vuurproef bewaar. Trouens, Dawid was voorberei vir ‘n selfs groter bediening ná sy val. Sy stem was regdeur die land gehoor soos nog nooit tevore nie en vandag lees ons sy gesalfde woorde in die Psalms. Die waarheid wat God aan Dawid geopenbaar het tydens sy beproewing, word steeds vandag verkondig.

Onthou, die Here sal nooit opgee op jou nie, maak nie saak watter stryd jy beleef nie. Jy is die Here s’n, so ontvang sy liefde, krag, vergifnis en vryheid! “Want die HERE sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie” (Psalm 94:14).

Tags