Verlange na Jesus om te Kom

David Wilkerson (1931-2011)

God se kinders het ‘n groot uitstorting van die Heilige Gees nodig, ‘n bonatuurlike aanraking wat selfs groter is as die een by Pinkster. Jesus se volgelinge by Pinkster hoef nie kernwapens te gevrees het nie. Hulle het nie gesidder terwyl die ekonomie op die rand van ineenstorting gewankel het nie.

Dit is duidelik dat ons die Heilige Gees krag nodig het om hierdie laaste dae te trotseer. Trouens, die roepstem wat vandag nodig is, was in Jesaja se dae gehoor: “Ag as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal ... om u Naam aan u teëstanders bekend te maak” (Jesaja 64:1-2).

Hierdie roepstem was geuiter deur ‘n profeet wat bedroef was oor die traagheid van God se volk, ‘n man wat duidelik geweet het wat nodig was: ‘n bonatuurlike besoek van die Here. Jesaja het in wese gesê, “Here, ons kan nie aangaan soos tevore met dieselfde dooie godsdienstige roetine nie. Ons het ‘n aanraking van U nodig wat ons nog nie voorheen beleef het nie.”

Christus se kerk is geseën met meer werktuie vir evangelisasie as enige ander geslag. Ons het meer media uitgange vir die evangelie – meer boeke, webwerwe, TV en radioprogramme – as ooit tevore. In een nasie na die ander, kan ‘n Christen egter in ‘n kerk wat in die Bybel glo, inloop en daar uitkom sonder om die teenwoordigheid van Jesus te beleef.

Eenhonderd-en-twintig gelowiges het in ‘n gehuurde bokamer in Jerusalem bymekaargekom in ‘n tyd baie soos Jesaja s’n – ‘n tydperk van groot godsdienstige waarneming met talle wat van oral oor Israel na die tempel gestroom het. Daar was groot vertoon maar tog was hierdie byeenkomste leweloos, met die mense wat bloot belangeloos die rituele nagevolg het.

Hoe kon dit wees? Dit was die geslag wat onder die vurige prediking van Johannes die Doper gesit het en Jesus self het onder hulle gewandel en wonderwerke gedoen. Tog was hulle leweloos, droog en leeg. Jesus het nooit opgegee op sy volk nie, maar teenoor sy dissipels geprofeteer, “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom” (Handelinge 1:8). Die honderd-en-twintig dissipels wat in die Bovertrek saam was, was “eendragtig bymekaar” (2:1). En ons weet wat gebeur het. Die Heilige Gees het op hulle neergedaal en elke berg van teenstand het verdwyn. Baie was gered en die kerk is gevestig.

Op hierdie oomblik, hoor die Here sy kinders se roepstem oor die wêreld. En Hy stort sy Heilige Gees uit met sy eie roepstem: “Ja kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20). Terwyl die Gees neerdaal en ons harte aanroer, laat die volgende ook ons roepstem wees: “Kyk, Jesus kom. Laat ons uitgaan en Hom tegemoet gaan!”