Wag op die Here vir Leiding

David Wilkerson (1931-2011)

God praat met sy kinders deur sy Gees en Hy maak sy stem vir ons duidelik: “En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle links of wanneer julle regs wil gaan” (Jesaja 30:21).

Party mense vra, “Hoe kan ek sy stem hoor?” Die stem van God se Gees kom hoofsaaklik na ons deur die Skrifte. Maar voor ons sy stem van leiding kan hoor, verwag God iets van ons. Ons moet stil staan en op Hom wag om op te tree. Dit is nie ‘n voorstel nie, maar ‘n gebod. En dit is die geheim van ons volkome oorwinning en verlossing. Op baie geleenthede het die Here sy volk beveel om stil te staan.

Nadat Samuel vir Saul as koning gesalf het, het hy op een stadium vir hom gesê, “Staan jy eers stil, dat ek jou die woord van God kan laat hoor” (1 Samuel 9:27). Samuel het in wese gesê, “Saul, ek jou pas gesalf, maar jou gedagtes is egter reeds op hol. Jy dink, ‘Wat is God besig om te doen? Hoe kan ek sy stem, sy wil ken?’ Hou op om te streef, Saul! Wil jy van God hoor? Wil jy leiding van Hom hê? Staan dan stil en luister.”

Ons sien nog ‘n geval van wag op die Here vir leiding met Koning Jósafat. Juda was binnegeval deur ‘n koalisie van magtige leërs en die Skrif sê Koning Jósafat “het ... bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep” (2 Kronieke 20:3). Die volk het tot God uitgeroep. Daar is niks mee verkeerd om bang te wees nie; trouens, God is lankmoedig teenoor ons en Hy hou nie ons vrees teen ons nie.

“Toe kom die Gees van die HERE in die midde van die vergadering” (2 Kronieke 20:14). Hier is wat die Gees beveel het: “Wees nie bevrees of verskrik ... nie ... want die stryd is nie julle saak nie, maar God se saak. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle” (2 Kronieke 20:15-17).

Ons mag fouteer in ons onderskeiding, in dit wat ons hoor en in ons besluite. Maar ons kan juig in ons God wat ons sterkte is! Hy sal ons die regte pad laat loop. Dit is alles sy werk. En ons moet bloot oorgee, staande bly en sy verlossing beleef!