Die Gevaar Daarvan om Gebed te Verwaarloos

David Wilkerson (1931-2011)

Christene vind dit skynbaar moeilik om te bid. Hulle bring hulle dae bekommerd en angstig deur omdat hulle nie ‘n antwoord op hulle probleme het nie. Hulle praat met vriende, spreek beraders, lees selfhelp boeke, luister na potgooie, amper enigiets om dit te vermy om op hulle knieë voor God te gaan. Maar die Woord is duidelik dat ons God eerste moet soek: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Dawid het geroem, “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel” (Psalm 138:3). Hy het in wese gesê, “Ek het U op die proef gestel, God! In al my beproewings, het ek my na niemand anders gewend nie. Ek het net U gesoek en U het my gehoor, my verhoor en my die krag gegee vir die stryd wat ek gehad het.”

Verder, “Die HERE ... die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spreuke 15:29).

Dit is maar net ‘n paar van die beloftes gegee as bewyse van God se sorg. Hoe kan enige Christen dit nie insien nie? Maar, wanneer dit by gebed kom, gee die Bybel vir ons meer as beloftes; dit waarsku ons ook oor die gevaar van gebed verwaarloos: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Hebreërs 2:3). Die Griekse woord vir verwaarloos hier beteken “om te minag; om ligtelik op te neem.”

Die konteks van hierdie vers is ‘n bespreking oor die dinge met betrekking tot ons saligheid – en gebed is duidelik een daarvan. God vra in wese, “Hoe sal jy my stem in die donker dae ken en herken as jy nie geleer het om dit in jou binnekamer te hoor nie?” Dit is moeilik om te verstaan hoe God se eie kinders – wat voortdurend aangeval word deur die hel, en probleme en versoekings van oral af beleef – week na week kan voortgaan sonder om Hom te soek.

Sommige Christene moet hulle prioriteite regkry. Hulle maak tyd om by vriende te kuier, die motor te was, inkopies te doen, uit te eet, sport te kyk – die lys kan aan en aan gaan – maar hulle sal eenvoudig nie tyd maak om te bid nie. Hulle lewens sou in alle opsigte soveel ryker en meer effektief wees as hulle Jesus heel bo aan die lys sou plaas.

“Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie” (Psalm 34:10). Ek moedig jou aan om gereeld na jou binnekamer van gebed te gaan en Hom met jou hele hart te soek.