Die Regte Ding op die Regte Tyd

Tim Dilena

Moses het met God ontmoet, dikwels op ‘n dramatiese manier; die Woord sê vir ons, “Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ’n vuurvlam uit ’n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur” (Exodus 3:2). Op daardie stadium het God Moses geroep om die kinders van Israel uit slawerny uit Egipte te lei en hy moes sy lewe onderstebo keer om die leiding van die Here te volg. “Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is ... En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede” (Exodus 4:18-19). Nadat Moses besluit het om God te gehoorsaam, het hy hom onderwerp aan die leierskap van Jetro, wat ‘n betekenisvolle beginsel is om te verstaan.

Wanneer ons die regte ding doen in die regte volgorde, sê God, “Ek het die pad gereed gemaak en Ek sal jou die aanwysings gee vir wat volgende gaan plaasvind.” Dit is baie belangrik as ons na Moses se lewe en bediening kyk. Hy het teruggegaan na Egipte toe, en soos ons weet, het hy sterk teenstand ondervind om die Israeliete uit Egipte te kry. Farao het hulle toenemend verdruk en die situasie was skynbaar hopeloos (lees die verhaal in Exodus 5).

Hoewel God talle groot wonderwerke vir die Israeliete gedoen het, het dit nie gelyk of Hy op daardie stadium om hulle ontwil opgetree het nie. Moses het alles reg gedoen en die Israeliete het so hard gewerk as wat hulle kon, maar God het stil voorgekom. As ons na hierdie storie kyk, weet ons dat God die heeltyd met Moses en die Israeliete was – en uiteindelik was hulle verlos uit Egipte met ‘n wonderlike oorwinning.

Miskien het jy van God gehoor, jy het jou aan leierskap onderwerp, gesê wat God ook al wou hê jy moes sê en gegaan waarheen God wou hê jy moes gaan. Maar dit lyk asof alles verkeerd geloop het en dat God teen jou is – maar is Hy? Nee! Hy leer jou eintlik net – om jou na ‘n plek van belofte te neem. Toe Jesus die verste van God af weg gevoel het, het Hy uitgeroep, “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matthéüs 27:46). Maar op daardie oomblik was Hy in die middel van God se wil en het die werk van verlossing gedoen vir die hele mensdom!

Wees bemoedig as jy deur ‘n moeilike tyd gaan: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

Pastoor Tim het in ‘n middestad gemeente in Detroit bedien vir dertig jaar voor hy by Brooklyn Tabernacle in New York Stad bedien het vir vyf jaar. Hy en sy vrou Cindy bedien tans in Lafayette, Louisiana.

Tags