Lydend Maar Vreugdevol

Jim Cymbala

Wanneer ons in die Gees lewe, wanneer die die Heilige Gees ons beheer, bewerkstellig Hy blydskap in ons lewens net soos Hy liefde bewerkstellig. Lukas het Jesus beskryf dat Hy “in die gees verheug” was (Lukas 10:21). Alle blydskap kom van die Heilige Gees af. Ons kan dit nie fabriseer, dit oproep of op ons eie probeer laat gebeur nie.

Baie van ons loop rond met letsels wat niemand kan sien nie, maar Jesus sê dat ons nie ons blydskap hoef te verloor wanneer die lewe pynlik is of wanneer mense lelik met ons is nie. Blydskap is nie net belowe aan diegene met die minste pyn in hulle lewens nie. Blydskap is vir almal wat gewillig is om deur die Gees beheer te word. Jesus het gesê, “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen” (Lukas 6:22-23). Om te maak asof eertydse lyding ons die reg gee om sonder blydskap te wees, is net een manier om die waarheid te vermy.

Selfs Jesus het geweet wat smart was en Hy het geweet wat dit was om te ween. Jesaja het geprofeteer dat Jesus ‘n man van smarte sou wees (Jesaja 53:3) en daardie profesie het sekerlik waar geword. Hy het beide aan en af van die kruis gely toe Hy bespot, geslaan en verneder is. Maar dit is net die helfte van die prentjie.

In Hebreërs lees ons dat God Jesus met vreugde-olie gesalf het (1:9). Olie is ‘n simbool van die Heilige Gees en soos ons in Lukas 10:21 hierbo gesien het, was Jesus vol blydskap deur die Heilige Gees. Jesus was dus ‘n man van smarte wat die kruis gedra het, maar Hy was gesalf met vreugde-olie. En sy blydskap, soos ons s’n, het van die Heilige Gees af gekom. Om Jesus werklik te verstaan, kan ons Hom nie net as ‘n treurende Saligmaker sien nie, maar ons moet dit balanseer met die feit dat Hy met blydskap gevul was en die meeste van die tyd gejuig het.

Die basis van geestelike blydskap lê in ons nimmerveranderende verhouding met Christus. Ons “verbly” ons “in die Here” (Filippense 3:1) deur al die voordele wat Hy nou en in die hiernamaals beskik het te onthou en op te eis.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.

Tags