Wat Op Aarde het van God se Dag Geword?

David Wilkerson (1931-2011)

Sondae was gewoonlik die dag wat opsy gesit was as die Here se Dag, ‘n dag om God te aanbid en van alle ander aktiwiteite te rus. Vandag is Sondag nie meer ‘n heilige dag nie. Dit is jammer dat baie Christene nie meer na Sondag kyk as ‘n dag om Christelike aktiwiteit prioriteit te gee nie. Miljoene gelowiges kan gesien word waar hulle op pad is na hulle familie se wegbreekplek – ‘n hut in die berge, ‘n huis op die platteland of ‘n houthuisie by die meer. Vir hulle is Sondag een groot dag van bootry, swem, ski of om op vaarte of uitstappies te gaan.

Wat het die Here te sê oor die Sabbat? Wel, op een plek het Moses gesê, “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het ... het die volk dan op die sewende dag gerus” (Exodus 16:29-30). Met ander woorde, die sabbat was bedoel as ‘n gawe van God aan die mens. En dit het ‘n heilige doel gehad. Jy sien, sabbat beteken letterlik, “om op te hou,” of “om te stop waarmee jy besig is.” En die vierde gebod sê vir ons, “Gedenk die sabbat, dat jy dit heilig” (Exodus 20:8).

Die Bybel beskryf dit so: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want is ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:9-11).

Wat beteken dit om die Sabbat te heilig? As dit nie net ‘n saak van wettiese gehoorsaamheid is nie maar liewer ‘n geestelike gebruik, wat moet ons dan doen?

Dit sluit defnitief rus in – fisieke rus – maar daar is ‘n heilige rus wat in die siel begin: “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Wat is hierdie rus? Dit is om al ons sondelaste op Christus te werp! God roep ons om al ons dae vry van vrees, bekommernis en angs te leef – om in die Gees te lewe, met geen swaar laste meer nie.

Geliefde, juig oor jou posisie in Christus en laat elke dag ‘n Sabbat wees terwyl jy Hom eer.

Tags