Die Onveranderlike Liefde van God

David Wilkerson (1931-2011)

Gemeenskap met God bestaan uit twee dinge: om die liefde van die Vader te ontvang en Hom terug lief te hê. Jy kan ure per dag in gebed deurbring en vir die Here vertel hoe lief jy Hom het, maar dit is nie gemeenskap nie, tensy jy sy liefde terug ontvang.

Die Psalmdigter moedig ons aan: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang” (Psalm 100:4). Waarom word daar vir ons so ‘n hartlike uitnodiging gegee en wat is die rede vir sulke lof en danksegging? Dit is omdat daar vir ons gewys word na watter soort God ons moet kom: “Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag” (100:5).

God kom nie na ons as ‘n harde, veeleisende Vader nie. Inteendeel, Hy is vriendelik en goedhartig, vol genade en barmhartigheid teenoor ons. Sy liefde is onvoorwaardelik en Hy sal ons nooit afwys wanneer ons Hom aanroep nie. Hy is besorg oor alles wat ons raak maar min Christene begryp hierdie wonderlike liefde en genade. Hulle leef in vrees en twyfel met min of geen hoop nie.

Ware liefde word geopenbaar deur twee dinge: rus en jubel. Die profeet Sefanja skryf, “Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel” (Sefánja 3:17).

God rus in sy liefde vir sy kinders. In Hebreeus, lees die frase “Hy swyg in sy liefde” in wese “Hy sal stil wees as gevolg van sy liefde.” God sê in wese, “Ek het my ware liefde gevind en Ek hoef nêrens anders te soek nie.”

God kry groot plesier uit sy kinders. Sefánja getuig dat God se liefde vir jou so groot is dat dit ‘n lied op sy lippe plaas!” Om te “juig” beteken om blydskap en behae te hê; dit is ‘n uiterlike uitdrukking van innerlike blydskap. Dit is ook die hoogste uitdrukking van liefde.

God het al jou sonde en mislukkings vooruit gesien, maar Hy het jou steeds liefgehad met innige liefde. As God jou lief genoeg gehad het om sy eie Seun te gee om vir jou te sterf toe jy steeds diep in sonde was, sal Hy sy liefde van jou onttrek wanneer jy struikel of misluk? Glad nie! Sy liefde is glorieryk en standhoudend – onveranderlik en ewigdurend.

Tags