Uit Die Put Gelig

David Wilkerson (1931-2011)

Moedeloosheid is die duiwel se mees vernietigende gereedskap in sy aanvalle teen Gees-honger heiliges. Dit was nog altyd die vyand se gekose wapen teen God se uitverkorenes en van die dag af wat jy ernstig oor die dinge van God geword het – en in jou hart besluit het om Christus in sy volheid te ken – wou Satan jou moedeloos maak. Hy kyk hoe jy elke dag dieper in God se Woord delf. Hy sien hoe jy groei, verander, alle wêreldsheid oorwin en daarom maak hy jou ‘n belangrike teiken.

Op hierdie oomblik kan jy in staat wees om God hardop in die kerk te loof maar wees waaksaam vir wat môre kom. Satan sal sy heel kragtigste wapen gebruik om jou te probeer vernietig, so moenie dink sy aanvalle is ongewoon nie. God laat altyd hierdie tipe vurige beproewing toe by al sy heiliges. Petrus skryf, “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Petrus 4:12). God se kinders ly al eeue lank aan moedeloosheid.

Wanneer jy aangeval word, sal jy nie daarna voel om te bid nie, maar jy moet steeds na die binnekamer gaan en in die teenwoordigheid van Jesus in! Moenie probeer om jou pad uit moedeloosheid te bid nie – dit is nou die tyd vir God se Gees om vir jou te werk. Hy sal jou uit die put lig!

Jy kan eerlik met die Here wees en vir Hom vertel hoe swak en hulpeloos jy voel. “Jesus, my gees is droog en ek het geen krag oor nie. Ek kom na U toe vir hulp!” In sulke tye, is die Here baie geduldig met ons. Hy verwag nie van ons om een of ander intense, vurige poging in gebed aan te wend nie, so sit net in sy teenwoordigheid en vertrou sy Heilige Gees om in jou te doen wat Hy gestuur is om te doen. Hy sal jou nooit verlaat nie, maar jy moet Hom tyd gee om sy werk te doen.

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Korinthiërs 2:9). Waag dit om die wonderlike dinge wat die Heilige Gees vir jou gaan vertel te glo. Die Here het glorieryke beloftes vir almal wat op Hom wag!