Jesus Smag na Gemeenskap met Jou

David Wilkerson (1931-2011)

“In wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Efésiërs 2:22). Die Griekse woord vir woning in hierdie vers beteken “’n permanente verblyfplek.”

Elke Christen weet dat God nie in mensgemaakte tempels of geboue woon nie. God het geen ander fisiese verblyfplek nie – geen nasie, geen hoofstad en geen bergtop nie. Hy woon nie in die wolke of die lug, die duisternis of daglig, die son, maan of sterre nie. Natuurlik is die Here oral en sy teenwoordigheid vul alle dinge. Maar volgens sy Woord, maak God sy woning in die harte en liggame van sy kinders. Elke gelowige kan met vertroue daarin roem, “God leef in my.”

God het begin om in ons te woon toe ons ons harte vir Jesus gegee het. Hy getuig dat, “Ek in my Vader is...As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:20-23).

Lank voor die wêreld geskep is, was die hemelse Vader en sy Seun saam in die heerlikheid van die hemel en het in groot blydskap geleef. Jesus het toe nog nie in die vlees met al sy laste en beproewings geleef nie en Hy het menslike hartseer glad nie geken nie. Toe kom die plan van die Nuwe Verbond wat in Spreuke 8 openbaar word. Die Vader het vir Jesus gevra, “Sal jy die menslike vlees aaneem en die offer word wat die afvallige mensdom verlos?” God het gekies om op hierdie klein ronde bol wat die Aarde genoem word te woon en Hy het die mens gekies as die plek waarin Hy sou woon. “En het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders” (Spreuke 8:31).

Jesus het geweet dat Hy nie langer die glorieryke, van aangesig tot aangesig gemeenskap wat Hy met sy Vader gehad het, sou geniet nie, maar Hy het Hom verlusting in die gedagte van soete gemeenskap met ons! Hy het die verskriklike vooruitsigte volkome verstaan – die doringkroon, die haat en verwerping, die kruis – maar tog het Hy die koste bereken en gesê, “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen” (Psalm 40:8).

Jesus verwag om ‘n leeftyd saam met jou deur te bring en daagliks soete gemeenskap met jou hê. Spreuke 8:34: “Gelukkig is die man wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte wag te hou.” Jy is die verlustiging van Jesus se hart! Hy wag gretig vir jou teenwoordigheid en wil jou graag seën as een van sy geliefde kinders.