Openbarings in Jou Donkerste Uur

David Wilkerson (1931-2011)

Dwarsdeur die Skrif, deel God sy genade uit deur middel van openbarings tydens ons beproewings wat ons nooit in ons goeie tye sou verstaan nie. God se goedheid kom na sy kinders in tye van moeilikheid, rampe, isolasie en swaarkry. Byvoorbeeld, die dissipel Johannes was “in Jesus se boesem” vir drie jaar lank. Dit was ‘n tyd van die grootste rus, vrede en blydskap. Maar in al daardie tyd, het Johannes bitter min openbaring ontvang. Hy het Jesus slegs as die Seun van God geken. Wanneer het Johannes dan sy openbaring van Christus in al sy heerlikheid gekry? Dit het slegs gebeur nadat hy van Éfese af weggesleep is in boeie.

Johannes was na die eiland Patmos verban waar hy tot handearbeid gevonnis was. Afgesonder, met geen gemeenskap, familie of vriende om hom te vertroos nie, het Johannes ‘n tyd van die ergste wanhoop tydens die laagste punt van sy lewe beleef. Dit was egter toe dat hy die openbaring van sy Here ontvang het wat die laaste element van die Skrif sou word: die boek Openbaring. Te midde van daardie donker uur, het die lig van die Heilige Gees na hom gekom en hy het Jesus gesien soos wat hy Hom nog nooit tevore gesien het nie. Johannes het glad nie hierdie openbaring ontvang terwyl hy saam met die ander apostels was of selfs tydens Jesus se dae op aarde nie. Maar nou het Johannes Christus in al sy heerlikheid gesien en Hom hoor sê, “[Ek is] die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openbaring 1:18). Hierdie ontsagwekkende openbaring het Johannes op sy aangesig laat val, maar Jesus het hom opgetel en vir hom die stel sleutels wat Hy in sy hand gehad het, gewys en hom toe gerus gestel, “Moenie vrees nie” (1:17).

Hierdie openbaring kom tot elke biddende, bedroefde dienaar in sy of haar tyd van nood. Die Heilige Gees sê, “Jesus hou al die sleutels van die lewe en dood. Satan kan nooit jou of enige ander lid van jou familie vat nie. Christus alleen kan ons ewige bestemming bepaal. So, as Hy ‘n sleutel draai, is daar ‘n rede daarvoor en daardie rede is slegs bekend aan Hom, die Vader en die Heilige Gees.”

Geliefde, vra die Here om jou in staat te stel om Jesus voor jou te sien staan en jou gerusstel, “Wees gerus. Ek hou al die sleutels en Ek sal vir jou vrede in jou hart gee.”