Geen Tyd vir Bedeesde Geloof Nie

David Wilkerson (1931-2011)

Kyk na die huidige toestand van ons land en die wêreld. Wat sien jy? Christus se profesie word voor ons oë vervul: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid ... en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Paulus praat ook van hierdie tyd: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thessalonicense 5:3). Paulus beskryf ‘n volk wat selfvoldaan en veilig lewe, terwyl hulle roem, “Ons het sukses en vrede bereik. Alles gaan net goed.” Maar op die presiese oomblik wanneer mense die veiligste voel, kom verwoesting. Skielik verdwyn die veiligheid wat hulle koester en die samelewing word met vrees oorweldig.

Maar ons moenie vrees nie. Paulus het vir die Thessalonicense gesê dat hulle bewaar word in gees, siel en liggaam (sien 5:23). God se doel agter dit alles is “dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak” (2 Thessalonicense 1:11). Paulus het in wese gesê, “Jy word geroep om ‘n werk van geloof te vervul – nie ‘n stil geloof nie maar een wat die krag van Christus demonstreer.”

Dit is nie nou ‘n tyd vir bedeesde geloof nie! Ons Kaptein roep ons om te midde van ‘n vreesbevange samelewing op te staan en toe te tree met “kragtige geloof.” Ons moet die verklaring maak: “God het my voor julle uit gestuur ... om julle in die lewe te hou tot ’n groot verlossing” (Génesis 45:7).

Ons Here word glad nie verras deur enigiets wat vandag gebeur nie. Wanneer die wêreld steier as gevolg van rampe, met droefheid wat van alle kante af toeneem, sal God getroue soldate oproep wat opgelei is vir die stryd. Hierdie toegewyde manne en vroue het beproewings verduur en met ‘n vaste geloof daar uitgekom. Die krag van God rus op hulle. Sulke krag word dalk nie op groot skaal gesien nie; dit word miskien net op eenvoudige manier gesien: ‘n stil gees, ‘n glimlag in ‘n see van fronse; ‘n rustige siel, verstand en liggaam terwyl ander bewe.

Alle bedienings kom uit gemeenskap met die Vader, so soek Hom pligsgetrou in gebed. Waarlik, jy is geroep as ‘n lid van sy geselskap vir ‘n tyd soos hierdie.

Tags