Die Krag van Kameraadskap

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar Hy wat die nederige troos, naamlik God, het ons getroos deur die koms van Titus” (2 Korinthiërs 7:6).

Paulus het ‘n sendingreis na Troas onderneem waar sy geestelike seun, Titus, by hom sou aansluit. Hy het verlang om sy geestelike seun in Christus te sien en het geweet dat sy gemoed verkwik sou word deur sy teenwoordigheid. Na Paulus egter in Troas aangekom het, het Titus nie opgedaag nie.

Deure van bediening het vir Paulus oopgegaan in Troas, maar die apostel se hart het swaarmoedig geword terwyl hy vir die aankoms van Titus gewag het. Paulus het oor die belewenis geskryf, “Maar toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus te verkondig, hoewel ’n deur vir my in die Here geopen was, het ek geen rus vir my gees gehad nie, omdat ek my broeder Titus nie aangetref het nie; maar ek het van hulle afskeid geneem en na Macedónië vertrek” (2 Korinthiërs 2:12-13).

Paulus het iets gedoen wat hy nooit in sy lewe gedoen het nie, iets in teenstelling met alles wat hy verkondig het; hy het weggeloop en rusteloos in Macedonië rondgedwaal. Wat ‘n toonbeeld van ‘n gewonde soldaat van die kruis. Die groot apostel was swaarmoedig in gedagtes, liggaam en gees. Waarom? Wat het Paulus by so ‘n punt uitgebring? Die apostel verduidelik dit. “Ek het geen rus vir my gees gehad nie, omdat ek my broeder Titus nie aangetref het nie.” Hy was alleen en hy het kameraadskap desperaat nodig gehad.

Satan kom altyd om ons aan te val wanneer ons moeg is vir die stryd. Dit is wanneer ons die kwesbaarste is vir sy leuens, en die vyand het Paulus gekap met twee wrede leuens: “Titus het nie gekom nie omdat hy jou verwerp het” of “Titus is nie hier nie omdat jy nie langer effektief is nie, Paulus. Jou bediening dra eenvoudig net nie vrug nie.”

As jy intiem met die Here lewe, weet jy baie goed wat Paulus beleef het. Satan is die vader van leuens, en op hierdie oomblik stuur hy dalk vir jou soortgelyke leuens. “Almal het jou verwerp. Jy het geen plek in God se koninkrykswerk nie. Jy neem net spasie op.”

Titus het in Macedonië aangekom en hy het met ‘n verkwikkende gees opgedaag. Paulus se hart was verfris terwyl die twee mans kameraadskap geniet het en hy het geskryf, “Ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons [my] verdrukking” (2 Korinthiërs 7:4).

God gebruik mense om mense te verkwik! Kyk vandag na ‘n geleentheid om ‘n Titus te wees vir iemand wat neerslagtig in gees is. Miskien sal ‘n eenvoudige telefoonoproep troos en verkwikking bring vir ‘n broer of suster in Christus en tot genesing van gees lei.