By God Indring tydens Jou Ellende

Gary Wilkerson

Etlike jare gelede, het ek ‘n verpletterende rugbesering in ‘n motorongeluk gehad, met die gevolg dat my gesin en ek ‘n spesiale soort sorg nodig gehad het. Omdat ek vir ‘n tyd lank glad nie kon beweeg nie, het ons huishouding nuwe probleme beleef. Normale huishoudelike pligte wat maklik gelyk het toe ek hulle nog kon doen, het nou oorweldigend gevoel.

God het spesiale guns aan ons gesin betoon toe Hy beskik het dat ‘n jong paartjie ingegryp het om die ekstra myl saam met ons te loop. Hulle het selfs vir ‘n rukkie in ons huis ingetrek om ons lewens makliker te maak. Kruideniersinkopies, kook, skoonmaak, wasgoed was – sleurwerk was vir ons gedoen tydens ‘n moeilike tyd in ons lewens. Wat ‘n seën!

Een Israeliet, wat duidelik God se guns geken het, was die wonderlike jongman wat gesalf was om Israel se koning te word. Van jongs af, het alles vir Dawid goed verloop: hy was ‘n magtige kryger vir wie Saul aan sy sy in die oorlog wou hê. En hy was charismaties! Toe Saul se leërs seëvierend teruggekeer het, het die skare Dawid meer toegejuig as hulle koning. Nie net was hy aantreklik nie, maar hy was talentvol, ‘n musikant wat liedjies geskryf het wat God se volk tot vandag toe nog sing. Alles waaraan hy geraak het, het gelyk of dit met God se guns geseën was.

En toe het dinge in Dawid se lewe verkeerd geloop. Eenkeer het hy in ‘n grot weggekruip nadat hy gevlug het vir die koning, wat teen hom gedraai het (sien 1 Samuel 22:1-10). En later het Dawid en sy manskappe teruggekeer na hulle tuisdorp, Siklag, na ’n moeilike oorlog. Uitgeput en verlangend om by hulle geliefdes te wees, het hulle op hulle tuisdorp afgekom waar rook uit die as opgestyg het. Buite hulleself van droefheid, “het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie” (1 Samuel 30:4).

Voorspelbaar, het die ander manne teen Dawid gedraai en hom geblameer vir wat met hulle gebeur het. Terwyl hulle onder mekaar gepraat het om Dawid te stenig, het hy ‘n belangrike besluit geneem; in plaas van om moed te verloor, het hy sy geloof behou en die Here begin soek. “Dawid het homself versterk in die HERE sy God” (30:6).

Geliefdes, karakter word gevorm wanneer dinge in jou lewe verkeerd loop. Moenie moed verloor en opgee op die probleme waarmee jy te kampe het nie. Gebruik daardie geleenthede om by Jesus in te dring en laat jouself versterk word deur sy krag.