Jou Posisie in Christus

David Wilkerson (1931-2011)

In Johannes 14, Jesus sê vir ons dat dit tyd is dat ons ons hemelse posisie in Hom moet ken. Hy het aan die dissipels verduidelik: “Julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (Johannes 14:19-20). Ons leef nou in “dié dag” waarvan Jesus praat. Kortliks, ons moet ons hemelse posisie in Christus verstaan.

Die meeste van ons ken wel ons posisie in Christus – dat ons saam met Hom in hemelse plekke sit – maar slegs as ‘n teologiese feit. Ons ken dit nie in ervaring nie. Wat bedoel ek met hierdie uitdrukking, “ons posisie in Christus”? Dit is heel eenvoudig die posisie “waar iemand geplaas word, waar iemand is.” God het ons geplaas waar ons is, dit is in Christus.

Op sy beurt is Christus in die Vader en sit aan sy regterhand. Daarom, as ons in Christus is, dan sit ons eintlik saam met Jesus in die troonkamer, waar Hy is. Dit beteken dat ons in die teenwoordigheid van die Almagtige sit. Dit is waarna Paulus verwys as hy sê dat ons gemaak is om “saam ... [te] sit in die hemele in Christus Jesus” (Efesiërs 2:6).

Die oomblik wanneer jy jou vertroue in Christus stel, word jy deur geloof in Hom opgeneem. God erken jou in sy Seun en laat jou saam met Hom in die hemele sit. Dit is nie net ‘n teologiese punt nie, maar 'n feitelike posisie. As jy dus nou jou wil aan die Here oorgee, kan jy al die geestelike seëninge wat jou posisie meebring, opeis.

Om “in Christus” te wees, beteken natuurlik nie dat jy hierdie aarde verlaat nie. Jy kan geen emosie of gevoel opwek wat jou in die letterlike hemel opneem nie. Nee, die hemel het op jou neergedaal. Christus die Seun en God die Vader het in jou hart ingekom en daar kom woon: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

Laat jou sonde en wêreldse strewes agter en “lê elke las en sonde af wat jou so maklik omring.” Gaan in en neem jou posisie in Christus in. Hy het jou geroep om die blydskap van jou aanvaarding binne te gaan. Dus, as jy more wakker word, roep uit: “Halleluja! Ek word deur God aanvaar en my hart loop oor met danksegging en blydskap.”