Nie Langer Slawe van Prestasie Nie

Gary Wilkerson

Ons almal misluk en ons sal aanhou misluk. Maar baie in die Liggaam van Christus beskou hulleself as totale mislukkings in alles. Hulle voel dat hulle niks reg kan doen of sê nie en hulle veroordeel hulself herhaaldelik.

Hierdie beswaarde gelowiges gaan kerk toe met die hoop om iets te hoor waaraan hulle kan vashou en wat hulle kan genees van voortdurende mislukking. Maar ons hoef nie “reggemaak te word” om sy seën te verdien nie. Hy het ons reeds geseën! Jesus sê, “Julle swoeg en sweet op ‘n manier wat blomme nooit doen nie – tog versier God selfs plante met skoonheid en lewe. Weet jy nie dat jy in die oë van die Vader oneindig meer waardevol is nie? Jy hoef nie bekommerd te wees en daarna te streef om Hom te behaag nie. Hy stel jou in staat om presies te wees wie Hy wil hê jy moet wees – omdat Hy jou liefhet” (sien Matthéüs 6:28-30).

Paulus het gesien hoe die Galásiese Christene onder hierdie soort las werk. Hy het geskryf om vir hulle te wys hoe God teenoor sy kinders optree: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur ... om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus” (Galásiërs 4:4-7).

Ons is nie slawe van enige prestasiestelsel nie. In plaas daarvan, sê Paulus, het God ons saggies na Hom toe getrek as sy “eie kind.” Boonop gebruik Paulus ‘n woord vir “aanneem” wat twee betekenisse het. Een betekenis is streng wettig. Maar die ander beteken “om op sy plek te plaas, om te laat behoort.” Ons hemelse Vader neem ons nie net wettiglik aan en toon aanvaarding en goedkeuring nie. Hy gee ons sy aandag, sy liefde, selfs sy gesag. En Hy seën ons met sy eie geaardheid: “Want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Petrus 1:23).

Toe Jesus na die kruis gegaan het, was dit ‘n bewys van sy groot liefde vir ons. Hy het ons plek ingeneem ​​omdat ons so waardevol vir Hom is. God wil vir jou wys hoe kragtig jy in sy familie behoort. Hy het jou ‘n erfgenaam gemaak, nie van ‘n aardse las nie, maar van ‘n groot hemelse erfenis!”