'n Hart wat Oop is vir God se Tugtiging

David Wilkerson (1931-2011)

Die meeste mense vind dit moeilik om te aanvaar dat ‘n liefdevolle God menslike lyding toelaat, maar koning Dawid het gesê dat sy ellende uit God se hand kom: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord ... Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insetting sou leer” (Psalm 119: 67, 71).

In soveel woorde sê David, “Ek weet nou dat die Here my lyding toegelaat het om my te genees van al die dros en vlees binne-in my. As Hy nie sy vrees in my hart geplaas het nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie. God het geweet wat in my hart was, en Hy het presies geweet hoe om my aandag te trek.” Wat Dawid hier sê, is lewegewende waarheid. Hy sê in wese vir ons: “As ons nie besef dat die Here in ons omstandighede werk nie – as ons nie glo dat die koers van die regverdiges deur sy hand bepaal word nie, insluitende ons haglike situasies – sal ons geloof uiteindelik in duie stort en ons sal skipbreuk ly.”

Dink aan ‘n chirurg en sy mediese span terwyl hulle voorberei om ‘n pasiënt met kanker te opereer. Die chirurg weet dat die pasiënt sal sterf as die gewas nie verwyder word nie. Om hierdie rede sal hy alles probeer om die kanker uit die liggaam van die pasiënt te kry, ongeag die pyn wat dit veroorsaak. Hy weet dat sy chirurgiese werk baie seer sal maak, maar dit is nodig om die lewe te red.

Die regte reaksie vir God se kinders met baie probleme, is ‘n vraende hart. Dit is die hart wat vra, “Here, sê u iets hiermee vir my? Is ek blind vir u stem?”

Die Heilige Gees slaag altyd daarin om ons te antwoord. Hy sê miskien: “Dit is ‘n strik van die Satan. Pasop!” Of, sonder veroordeling, sal Hy ‘n gebied van kompromie openbaar en sê: “Gehoorsaam, en alles sal duidelik word.”
As God vir ons wys wat in ons harte is – die ongeduld, die boesemsonde, die “klein,” maar dodelike kompromieë – word hierdie dinge vir ons drukkend in ons tyd van swaarkry. Dit is waarom Dawid gebid het: “Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u woord is my verlustiging” (Psalm 119:76-77).

Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, God se genade is daar vir jou. Hy wil jou nie veroordeel of straf nie, maar soos enige toegewyde vader, sê Hy vir sy kinders: “Laat My jou hierdeur help en die diepte van my liefde wys.”

Tags