God se Liefde Wankel Nooit Nie

David Wilkerson (1931-2011)

“Weens die geroep van die vyand, weens die geraas van die goddelose ... My hart krimp inmekaar in my binneste ... Vrees en bewing kom oor my, en angs oordek my ... Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos ’n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly!” (Psalm 55:4-7). Dawid praat hier van ‘n sataniese aanval wat so erg was dat dit sy krag en geduld gedreineer het en hom wou laat vlug. Hy het gekerm, “Daar is pyn in my siel, druk wat nooit ophou nie. Dit is ‘n stryd wat nooit eindig nie en dit maak my bang. Here, moenie langer vir my wegkruip nie, luister tog na my klag en maak vir my ‘n uitweg.”

Wat was die oorsaak van Dawid se verskriklike stryd? Dit was ‘n stem: “Weens die geroep van die vyand” (55:4). In Hebreeus is die betekenis hier “die stem van ‘n man.” Dit was Satan wat gepraat het, saam met sy demoniese onderdrukkers.

Wat het Dawid hieraan gedoen? Hy het die Here om hulp aangeroep en hom gevra om die vyand se beskuldigings stil te maak: “Verwar, Here, verdeel hulle spraak” (55:9). “Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen  ... Hulle val aan, lê en loer ... op my lewe” (56:6-7).

Dawid se getuienis maak dit vir ons almal duidelik: dit is oorlog. Ons kom te staan teen bose magte in die stryd om ons geloof teen die vader van die leuens. En die enigste manier waarop ons kan baklei, is om die Here om hulp te roep.

Soos ander heilige diensknegte van God, het Dawid deur sy stryd gekom en was hy magtiger gebruik as ooit tevore. Geliefdes, dieselfde vreugde wag op ons net buite ons geloofsverduistering. Dit is egter wanneer ons op ons laagste is – op die diepste punt van ons ongeloof – dat God sy diepste werk in ons doen en ons voorberei om hom te verheerlik.

Is jy onlangs gesif en het dit gelyk asof jou geloof in ‘n donker uur misluk? Ek doen ‘n beroep op jou om drie dinge te doen: (1) Rus in God se liefde vir jou. (2) Weet dat, ongeag hoe diep jou ongelowige gedagtes is, die Here sien waardeur jy gaan en dat sy liefde vir jou nooit sal wankel nie. (3) En doen soos Dawid gedoen het en roep dag en nag tot die Here: “Here, God van my heil, in die môre kom my gebed tot u. Neig u oor tot my smeking. ”