Heilig Soos Jesus

Gary Wilkerson

“Omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:16, 1953). Daar is twee elemente van Jesus se lewe wat bedoel is om ook deel van ons lewens te wees. Dit is, ons is geroep om heilig en gesalf te wees. Sommige Christene mag geïntimideer voel wanneer hulle dit hoor. “Ek lewe ‘n sedelike lewe en ek doen my bes om godvresend te wees – maar heilig? En gesalf? Hoe kan dit wees met al my mislukkings?”

Maar hier kom dit direk uit Petrus se pen. Die enigste manier hoe dit ooit kan plaasvind, is as Jesus vir ons sy eie heiligheid en salwing gee en dit is presies wat Hy gedoen het, deur sy volmaakte offer vir ons. Christus het ‘n vlekkelose lewe op hierdie aarde geleef en deur sy volmaakte lewe op aarde, was sy betaling van ons sondes en die sondes van die hele wêreld volkome en oneindig.

Christus se werk vir ons – sy kruisiging, dood en opstanding – het meer gedoen as net om ons van sonde te reinig. Daardeur het Hy ook aan ons sy geregtigheid gegee. Dink na oor wat ‘n verstommende ding dit is: Terwyl al ons sondes op Hom gekom het, het al sy geregtigheid op ons gekom.

Een van die sondes waarvan God ons gereinig het, is ons diep geloof dat ons gedrag ons regverdig maak. Ons kan nooit ons weg na ‘n hoër vlak van geregtigheid verdien nie; ons is deur Hom alleen geregverdig. Dit is waar ons oorwinning lê. Soos Paulus getuig, “Nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:9).

Jy kan dalk heilig voel op dae wanneer jy goed doen, aanbid en in alles van God bewus is. Maar moenie dit misgis vir ‘n staat van heiligheid nie. Jy kan nooit heiliger wees as wat Jesus se bloed jou maak nie. So, deur sy krag, is ons sy waardige getuies, nie net in goeie tye nie, maar ook in slegte tye.

Jesus het gesê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” (Johannes 14:12).

Die sleutel tot ons geloof is dat Hy reeds aan die werk is. Aanvaar sy heiligheid, maak nie saak wat jy van jouself dink nie en ontvang sy salwing om die werke waarvoor Hy jou toegerus het te volbring. Hy sal elke deur oopmaak en jy sal Hom onverwagte wonders sien doen!