Jesus Terug Liefhê

Gary Wilkerson

Ons kan Jesus nie behoorlik dien as ons nie die diepte van sy liefde vir ons ken nie. Soos Johannes skryf. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Ons moet die Here se liefde absoluut in ons harte ontvang – en dit is noodsaaklik dat ons Hom terug liefhet.

Dit word vir ons pragtig geïllustreer in die storie van ‘n vrou wat opgedaag het by ‘n ete wat Jesus bygewoon het. “En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was ... ‘n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf” (Lukas 7:36-38).

Dit is een van die mees aangrypende tonele in die hele Woord van God. Hierdie “straatvrou” het blykbaar haar opwagting gemaak by maaltyd wat deur ‘n vername godsdienstige leier gehou was. Dit was ‘n ongemaklike oomblik, maar dit het alles te doen gehad met Johannes se stelling, “Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

“Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, het hy vir homself gesê: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.

“’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel” (Johannes 7:39-43).

Jesus se punt aan Simon is duidelik. Hy verduidelik, “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief” (7:47).

Hierdie vrou, emosioneel verniel deur die lewe wat sy gelei het, het God se genade so kragdadig gevoel dat sy Jesus moes terug liefhê. Daarom het sy ‘n opofferende daad van liefde geïnisieer – een wat haar baie gekos het. Sy het met blydskap die prys betaal, nie net in terme van die duur salf nie, maar ook haar eie waardigheid. Die ander aan tafel was dalk verleë, maar sy word deur al die eeue heen vereer vir haar innige teerheid teenoor die Saligmaker.