Progressiewe Wonderwerke

David Wilkerson (1931-2011)

Die Ou Testament is vol van God se wonderwerkende krag, vanaf die opening van die Rooi See, tot God wat met Moses uit die brandende bos praat, tot Elia wat vuur uit die hemel laat kom. Al hierdie dinge was oombliklike wonderwerke. Die betrokkenes kon dit sien gebeur, dit voel en was opgewonde daaroor. En dit is die soort wonderwerke wat ons vandag wil sien en wat ontsag en verwondering veroorsaak. Ons wil hê dat God die hemele moet skeur, ons situasie moet aanspreek en dinge met ‘n uitbarsting van hemelse krag sal regstel.

Maar baie van God se wonderwerkende krag in sy volk se lewens kom met die sogenaamde “progressiewe wonderwerke.” Dit is wonderwerke wat skaars vir die oog waarneembaar is. Dit word nie vergesel met donderweer, weerlig of enige sigbare beweging of verandering nie. Inteendeel, progressiewe wonderwerke begin rustig, sonder trompetgeskal, en ontvou stadig maar seker, een tree op ‘n slag.

Albei soorte wonderwerke – oombliklik en progressief – was waargeneem toe Christus op twee geleenthede die skare gevoed het. Die genesings wat Hy gedoen het, was onmiddellik, sigbaar, en was maklik te bespeur deur diegene wat destyds teenwoordig was. Ek dink aan die kreupel man met sy knoestige liggaam, wat skielik ‘n uiterlike, fisieke verandering gehad het sodat hy kon hardloop en spring. Hier was ‘n wonderwerk wat almal wie dit gesien het, moes verstom en ontroer het.

Die vermeerdering van die brood en vis wat Christus gedoen het, was egter progressiewe wonderwerke. Jesus het ‘n eenvoudige gebed van seën gedoen sonder vuur, donderweer of aardbewing. Hy het bloot die brood en die gedroogte vis gebreek en nooit ‘n teken of geluid gegee dat ‘n wonderwerk plaasvind nie. Maar om soveel mense te voed, moes daar deur die dag duisende van daardie brood en van die vis gebreek word. En elke stuk brood en vis was deel van die wonderwerk.

Dit is hoe Jesus vandag baie van sy wonderwerke in sy volk se lewens doen. Ons bid vir onmiddellike, sigbare wonderwerke, maar dikwels is ons Here stil aan die werk en vorm dit vir ons stuk vir stuk ‘n wonderwerk. Ons kan dit miskien nie hoor of daaraan raak nie, maar Hy is aan die werk en bewerkstellig ons verlossing bo en behalwe dit wat ons kan sien.

Tags