Glo dat God Jou Roepstem Hoor

David Wilkerson (1931-2011)

Jy is miskien nou in die middel van ‘n wonderwerk en sien dit eenvoudig nie raak nie. Dit kan wees dat jy op ‘n wonderwerk wag. Jy is moedeloos omdat dit lyk asof dinge stilstaan. Jy sien geen bewyse van God se bonatuurlike werk om jou onthalwe nie.

Dink aan wat Dawid in Psalm 18 sê: “Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom. Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was. Rook in sy neus het opgegaan, en 'n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand. En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en donkerheid was onder sy voete ... En die Here het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole. En Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar” (Psalm 18: 7-10, 14-15).

Jy moet besef dat nie een van hierdie dinge letterlik gebeur het nie. Dit was alles wat Dawid in sy geestelike oog gesien het. Geliefde, dit is geloof. Dit is wanneer jy glo dat God jou geroep gehoor het, dat Hy nie uitgestel het nie, dat Hy jou smekinge nie ignoreer nie. In plaas daarvan, het Hy stilweg met jou wonderwerk begin toe jy gebid het, en selfs nou doen Hy bonatuurlike werk om jou onthalwe. Dit is om waarlik te glo aan wonderwerke, sy wonderlike progressiewe werk in ons lewens.

Dawid het die fundamentele waarheid onder dit alles verstaan: “En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het” (Psalm 18:20). Dawid het gesê: “Ek weet waarom die Here dit alles vir my doen. Dit is omdat Hy in my behae het.”

Ek glo regtig in oombliklike wonderwerke. God doen vandag nog wonderlike, onmiddellike wonders in die wêreld. In Matthéüs 16:9-11 en Markus 8:19-21, terwyl Jesus die dissipels herinner aan die wonderbaarlike voeding van die 5000 en die 4000, vra Hy hulle en ons om kennis te neem van sy progressiewe wonderwerke en hul rol in ons eie lewens vandag.