Ontwikkel in Genadeskenkers

David Wilkerson (1931-2011)

Dikwels gebruik God engele om mense te bedien, maar meeste van die tyd gebruik Hy sy eie sorgsame kinders om sy genade uit te deel. Dit is een rede waarom ons deelgenote van sy genade gemaak word: om kanale daarvan te word. Dit is vir ons bedoel om dit aan ander skenk. Ek noem dit “mense-genade.”

“Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus” (Efésiërs 4:7, AFR53). Weens die vertroosting wat ons gegee word deur God se genade, is dit onmoontlik vir enigeen van ons aan te hou treur vir die res van ons lewens. Op een of ander tyd, terwyl ons deur die Here genees word, begin ons om ‘n reservoir van God se genade op te bou.

Ek glo dit is wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het, “Waarvan ek ‘n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag. Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig” (Efésiërs 3:7-8) en dan “aangesien julle almal...my deelgenote in die genade is” (Filippense 1:7).

Die apostel maak ‘n diepgaande stelling hier, een wat die apostel Petrus selfs verder neem. Petrus skryf: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Petrus 4:10). Wat beteken dit om ‘n goeie bedienaar, of skenker van God se veelvuldige genade te wees? Is ek so ‘n persoon? Of bring ek my tyd deur in gebed slegs vir my eie pyn, droefheid en stryd?

God se genade het Paulus en Petrus meelewende herders gemaak en hulle kon ween saam met die wat bedroef was. Hulle het in wese gesê: “Wanneer ek na God se troon van genade gaan, is dit ter wille van julle. Ek wil vir julle ‘n genadige herder wees, nie ‘n veroordelende een nie. Ek wil genade vir julle kan gee in julle tyd van nood en julle behoort dieselfde te doen vir ander.”

Geliefde, ons huidige lyding produseer iets kosbaar in ons lewens. Dit vorm in ons ‘n uitroep na die gawe van barmhartigheid en genade om aan ander wat ly te bied. Ons lyding maak dat ons genadeskenkers wil wees.