Jesus Hou Al die Sleutels

David Wilkerson (1931-2011)

Dwarsdeur die Skrif het mense die grootste openbarings van God se goedheid in hul tye van benoudheid, rampspoed, afsondering en swaarkry gekry. Ons vind 'n voorbeeld hiervan in die lewe van Johannes. Drie jaar lank was hierdie dissipel “aan Jesus se boesem”. Dit was ‘n tyd van rus, vrede en vreugde met min probleme of beproewings. Hy het Jesus slegs geken as die Seun van die mens. Wanneer het hy dan sy openbaring van Christus in al sy heerlikheid ontvang?

Dit het gebeur net nadat Johannes in boeie van Efese afgesleep is. Hy is verban na die eiland Patmos waar hy tot hardearbeid gevonnis is. Hy het geen gemeenskap, familie of vriende gehad om hom te troos nie. Dit moes ‘n tyd van volkome wanhoop gewees het, die laagste punt in sy lewe.

Dit is toe dat Johannes die openbaring van sy Here ontvang het en wat die laaste deel van die Skrif sou word: die Boek Openbaring. Te midde van daardie donker uur, het die lig van die Heilige Gees na hom toe gekom, en Johannes het Jesus gesien soos hy Hom nog nooit gesien het nie. Hy het Christus letterlik as die Seun van God gesien.

Johannes het hierdie openbaring nie gedurende Jesus se dae op aarde of selfs terwyl hy saam met die ander apostels gewerk het, ontvang nie. Nee, dit was in sy donkerste uur dat Johannes Christus in al heerlikheid gesien het. Hierdie ongelooflike openbaring het Johannes op sy aangesig laat val, maar Jesus het sy hand op Johannes gesit en hom gerusgestel en gesê: “Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openbaring 1:17-18, AFR53).

Ek glo dat hierdie openbaring tot elke biddende dienaar in sy of haar tyd van nood kom. Die Heilige Gees sê: “Jesus hou al die sleutels van die lewe en die dood, sodat elkeen se lewe in sy hande rus.” Hierdie openbaring is bedoel om vrede in ons harte te bring. Soos Johannes, moet ons sien dat Jesus voor ons staan, die sleutels van die lewe en die dood hou en ons gerusstel: “Moenie vrees nie. Ek hou al die sleutels.”

Wat moet ons reaksie wees? Soos Job, moet ons met geloof sê: “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die Here is geloofd” (Job 1:21).