God se Vuur Brand Steeds

David Wilkerson (1931-2011)

Ongelukkig lyk baie van Christus se liggaam vandag na ‘n hedendaagse Dal van Droë Bene (sien Esegiël 37:1-14). Dit is ‘n wildernis vol verbleikte geraamtes van afvallige Christene. Bedienaars en ander toegewyde gelowiges se vlam het uitgedoof weens ‘n boesemsonde. En nou is hulle vol skaamte en kruip weg in grotte wat hulle self gemaak het. Soos Jeremia, het hulle hulself oortuig, “Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie” (Jeremia 20:9).

God vra nog steeds dieselfde vraag wat Hy vir Esegiël gevra het: “Kan hierdie droë bene weer lewe?” Die antwoord op hierdie vraag is ‘n absolute “Ja!” Hoe? Dit gebeur deur die vernuwing van ons geloof in God se Woord.

Die Woord van die Here is ‘n verterende vuur. Trouens, dit is die enigste ware lig wat ons gedurende ons donker nagte van wanhoop het. Dit is ons enigste verdediging teen die leuens van die vyand as hy fluister: “Dit is alles verby. Jy het die vuur verloor en jy gaan dit nooit weer terugkry nie.”

Die enigste ding wat ons uit ons duisternis sal haal, is geloof, en geloof kom deur die aanhoor van God se Woord. Ons moet eenvoudig vashou aan die Woord wat in ons geplant is. Die Here het belowe, “Ek sal jou nie laat ondergaan nie; daarom het jy geen rede tot wanhoop nie. Daar is geen rede om tou op te gooi nie. Rus in my Woord.”

Jy dink miskien, “Maar hierdie donker nag is erger as enigiets wat ek ooit geken het. Ek het al duisende preke oor God se Woord gehoor, maar niks daarvan lyk vir my nou van waarde nie.” Moenie bekommerd wees nie; God se vuur brand steeds in jou, al kan jy dit nie sien nie. Jy moet die brandstof van geloof op daardie vuur gooi. Jy doen dit deur op die Here te vertrou. As jy dit doen, sal jy sien dat al jou twyfel en begeertes verteer word.

God se Gees blaas weer lewe in elke stel droë bene. Hy herinner hulle aan die Woord wat Hy in hulle geplant het. Diegene wat eens dood gelê het, herleef, en hulle roep soos Jeremia: “God se vuur is te lank in my opgesluit. Ek kan dit eenvoudig nie langer inhou nie. Ek kan voel hoe die Here se krag my oplig. Hy plaas die lewe in my en ek gaan die Woord spreek wat Hy vir my gegee het. Ek gaan sy genade en genesende krag verkondig.”