Die Tenk tot Bo Volmaak

Gary Wilkerson

Jare gelede het ek ‘n ernstige rugbesering opgedoen. Ek het vroeër langafstandfietsry gedoen; maar na die besering kon ek nie soos voorheen beweeg nie. Ek het waarskynlik 20-25 pond opgetel. Dit het my ‘n bietjie geskok en daarom het ek daaraan begin werk om my gesondheid terug te kry, te oefen en reg te probeer eet. ‘n Ernstige probleem is dat ek groente haat. Dit smaak sleg, maar ek probeer om my groen groentes te eet.

Ek het ook ‘n ander probleem. Elke keer as ek begin gewig verloor, is daar ‘n getal wat nie so laag is as my oorspronklike doel nie, maar dit is waar ek tevrede begin raak. Aanvanklik, is dit geen probleem om gewig te verloor nie, maar dan tref ek ‘n sekere getal soos ‘n padversperring. Dit lyk asof ek nie daaronder kan kom nie en dan begin my brein vir my sê: “Haai, jy lyk nogal goed!” Daardie laaste hindernis is die moeilikste deel, want ek word tevrede met “goed genoeg.”

Hierdie mentaliteit is vir ons so gevaarlik, want dit laat ons sonder die volheid van wat ons begeer. Nog erger, baie van ons het dit in die kerk. Ons kry Sondag ‘n boodskap, of ons hoor ‘n aanlyn preek wat ons seën, of ons eet middagete saam met ‘n Christenvriend wat ons hart inspireer en dit is goed genoeg vir ons. Ons is tevrede. Vul een van julle die motor se brandstoftenk net driekwart? Of maak jy dit dalk net halfpad vol? Wie sit net ‘n kwart tenk brandstof in die motor? Die Heilige Gees wil ons vul met lewe en die lewe in oorvloed, maar baie van ons kry ‘n aanraking van die Gees en dan is ons tevrede. Ons dink: “Dis goed genoeg.”

Laat ek vir jou sê, die halwe vervulling van die Gees, die volheid van gister en gedeeltelike uitstortings is onvoldoende in hierdie goddelose dae. Jy sal neergewerp en verslaan word. Jy sal platgevee word as jy net halwe maatreëls tref.

Wat God vir jou beskikbaar het, strek veel verder as wat jy ooit gedroom, gedink of jou voorgestel het. Hy het vir jou die volheid van God sodat jy die dinge van Jesus Christus werklik kan ervaar. God wil ‘n geslag uit sy kinders oprig wat vol van sy teenwoordigheid is, diegene wat teen die duisternis standpunt sal inneem en Christus sal hoor sê: “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matthéus 16:18, AFR53).