‘n Vriend van God

David Wilkerson (1931-2011)

Beskou die manier waarop God self sy verhouding met Abraham beskryf: “Abraham, my vriend” (Jesaja 41:8, AFR53 NKJV). Net so, sê die Nuwe Testament vir ons: “En Abraham het God geglo ...  en hy is ‘n vriend van God genoem” (Jakobus 2:23).

Wat ‘n fenomenale aanprysing om die vriend van God genoem te word. Die meeste Christene het al die bekende loflied gesing: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus.” Hierdie Bybelse gedeeltes bring die waarheid kragtig tuis. Dat die Skepper van die heelal ‘n man sy vriend noem, blyk bo menslike begrip, maar dit het met Abraham gebeur. Dit is ‘n teken van hierdie man se groot intimiteit met God.

Die Hebreeuse woord wat Jesaja hier vir ‘n vriend gebruik, dui op liefde en gehegtheid. Hoe nader ons aan Christus groei, hoe groter word ons begeerte om volkome in sy teenwoordigheid te leef. Boonop, begin ons duideliker sien dat Jesus ons enigste ware fondament is.

Die Bybel sê vir ons dat Abraham “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:10). Vir Abraham was niks in hierdie lewe permanent nie. Die Skrif sê dat die wêreld vir hom ‘n “vreemde land” was. Dit was geen plek om wortel te skiet nie. Die hemelse land waarna Abraham gesmag het, is nie ‘n plek op aarde nie. Dit is eerder om by die Vader tuis te wees. Jy sien, die Hebreeuse woord vir die frase “hemelse vaderland” is pater. Dit kom van ‘n stamwoord wat Vader beteken. Die hemelse land wat Abraham gesoek het, was dus letterlik ‘n plek by die Vader.

Tog was Abraham geen mistikus nie. Hy was nie 'n askeet wat skynheilig was en in ‘n geestelike waas geleef het nie. Hierdie man het ‘n aardse lewe gelei en was nou betrokke by die wêreld se sake. Hy was immers die eienaar van duisende stuks vee, en hy het genoeg bediendes gehad om ‘n klein burgermag te vorm. Abraham moes ‘n bedrywige man gewees het en moes sy knegte opdragte gee en sy beeste, skape en bokke koop en verkoop.

Maar ten spyte van sy vele sake en verantwoordelikhede het Abraham op die een of ander manier tyd vir intimiteit met die Here gemaak.