Kersfees: Opstanding

Ons kan nie Kersfees van Christus se opstanding skei nie. Jy sal moontlik dink aan die opstanding as ‘n Paasfees boodskap, maar die geboorte van die Kind in die krip kan nie geskei word van die Man aan die kruis nie. God se boodskap aan ons tydens beide geleenthede, is een en dieselfde.

Terwyl die herders na die baba in die krip gestaar het, het hulle ‘n Verlosser gesien wat die hele mensdom sou verlos. Toe die wyse manne Hom aanskou het, het hulle ‘n Koning wat die dood sou oorwin, gesien. Toe die profete vooruitgekyk het na sy tyd, het hulle ‘n Bevryder gesien, wat tronkdeure sou oopmaak, boeie sou oopsluit en die gevangenes sou vrylaat. Hulle het almal hulle visie gehad van wie Jesus was en waarom Hy gekom het.

Christus was gebore in die wêreld van duisternis en ongeloof, toe God se volk onder die vreesaanjaende greep van die Romeinse Ryk geleef het. Israel se godsdienstige leiers het nie veel hoop gebied nie. Die Fariseërs het geglo verlossing was haalbaar deur werke; hulle het God se wette opgerol in ‘n rigiede stelsel wat onmoontlik was om uit te voer. Die Sadduseërs het nie eens in die opstanding geglo nie. Baie min mense het enige visie van ‘n ewige bestaan gehad. Dit was die duisternis waarin Jesus gebore is.

As ons kyk na die krip in Bethlehem, sien ek die opstanding kom. Ek sien Koning Jesus die vloedgety van die ewige lewe inlei. Christus was volkome mens by geboorte – dit was Maria se bloed wat Hom in die baarmoeder gevoed het en haar melk wat Hom gevoed het deur sy kinderjare – maar sy geboorte was ook ‘n uitbarsting van die ewige. Die Bybel sê, “Die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan” (Matthéüs 4:16).

Hierdie lig was die ewige lewe – die moontlikheid van opstanding uit die dood. Hoséa het geprofeteer van die komende Messias, “Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf?” (Hoséa 13:14). Toe Jesus gekom het, het Hy hierdie profesie vervul en gesê, “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25-26).

Jesus self verbind sy geboorte met die opstanding: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:38-40, my beklemtoning).

Christus het in wese gesê, “Weet julle waarom Ek hier is? Weet julle waarom Ek in armoede gebore was, waarom die herders my bewonder het, waarom die wyse manne geskenke gebring het, waarom die engele gesing het daardie nag? Dit is sodat julle die ewige lewe kon hê.” Christus se belydenis wys direk na die opstanding: grafte wat oopgaan, die dooies wat lewend word en die hoogste vervulling van God se ewige verbond.

Die Opstanding is die klem dwarsdeur die Nuwe Testament.

Die eerste kerkleiers het Christus se vleeswording as ‘n realiteit aanvaar. Hulle prediking het egter nie rondom daardie geleentheid gesentreer nie, maar rondom die opstanding. So vroeg as die Bovertrek byeenkoms by Pinkster, het Petrus gesê, “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word(Handelinge 2:23-24, my beklemtoning).

Oral waarheen Paulus en die ander apostels gereis het, het hulle prediking verder gegaan as Christus se vleeswording en wonderwerke, om te vorder tot by die opstanding:

“Toe het hulle...in Thessalonika gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus” (Handelinge 17:1-3).

By Mars Heuwel in Athéne, het Paulus gepreek, “Omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Handelinge 17:31).

Paulus het ook gepreek oor die opstanding toe hy voor die Romeinse goewerneur Felix en voor Koning Agrippa verskyn het. Sonder die opstanding, het Paulus gesê, is al ons prediking van Christus se evangelie inderdaad verniet. Hy verduidelik waarom: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (1 Korinthiërs 15:17). Paulus sê in wese vir ons, “As dit nie alles oor die opstanding gaan nie, kan julle vergeet van die Kersfees boodskap. Waarom die geboorte van Christus verkondig? Waarom heilig wees? Waarom hoegenaamd geestelike sake najaag? Sonder die opstanding, bly ons dood in ons sondes. Alles wat ons doen, is verniet.”

Hierdie is nie net een of ander abstrakte teologiese waarheid nie. Hier is die punt van al ons verkondiging van die opstanding: JESUS HET GEKOM OM JOU EN MY TE KRY. Hy was gebore om te leef en te sterf en op te staan uit die dood – en ons op te wek tot die ewige lewe saam met Hom. Hy het gekom om ons huistoe te neem na Hom toe vir die hele ewigheid!

Dit was die boodskap van die Nuwe Testamentiese kerk. “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode: Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Korinthiërs 15:20). Met ander woorde, net so seker as wat die Gees Christus uit die dood opgewek het, sal Hy ons ook opwek: “Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel” (2 Korinthiërs 4:14).

Terwyl ek binne-in die krip kyk, sien ek ‘n brug. Christus is die brug tussen die aarde en die hemel, wat die afgrond van die dood oorkruis en die tydelike lewe van die ewige lewe skei. Eendag sal ons daardie brug oorsteek en dit sal plaasvind in ‘n oogwink: “In ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:52).

Talle Christene wonder, “Wie sal ek eerste sien wanneer ek opgewek word in die ewigheid?”

Ek is oortuig dat wanneer hierdie oomblik kom, sal ons almal vir Jesus eerste wil sien. Hy is Liefde wat vlees geword het – ons Verlosser, Geneesheer en Koning. Ek het egter eenkeer iets gesien wat my oor ander laat dink het. Ek het in ons woonkamer ingeloop en gesien hoe my vrou, Gwen, saggies gehuil het. Sy het gekyk na die laaste video van ons kleindogter, Tiffany, wat aan kanker dood is op 13 jarige ouderdom. Sy het verlang daarna om Tiffany weer te sien.

Moenie ‘n fout maak nie, Gwen en ek sal Tiffany herken wanneer ons in die hemel kom. Die Bybel sê daar is geen huwelike in die hemel nie, maar daar is liefde, want Hy is liefde. Almal sal een in Christus se liggaam wees en ons sal mekaar herken met ‘n geestelike intuïsie. Die Skrif sê, op daardie oomblik sal ons ken, net soos ons geken word.

Miskien het jy nie grootgeword met ‘n liefdevolle vader of moeder nie. Miskien het niemand in jou huis Jesus geken of ooit sy kosbare liefde aan jou betoon nie. Jy wonder, “Wie sal daar vir my wag?” Ek sê vir jou, jy het ander familie – die familie van God. Ek is oortuig daar is niemand in Christus se liggaam wat nie voor gebid is deur iemand wat voor hom gekom het nie – ‘n ouer man of vrou, ‘n herder, ‘n vêrlangse familielid. Jy sal herken en omhels word met die familieliefde wat God vir jou voorberei het in die ewigheid.

Ek glo God het wêrelde gemaak wat nog nie beset is nie.

Ons sal nie sonder werk sit wanneer ons opgewek word nie. Astronome het melkweë ontdek wat groter is as wat ons ons kan indink, asook planete deurslaggewend groter as die aarde. Dit is niks vir die Skepper van hierdie uitgestrekte heelal om sy skepsels uit die dood uit op te wek nie.

Paul Harvey vertel die storie van ‘n ateïs wetenskaplike wat vir dekades lank na kollege kampusse gereis het om klas te gee oor hoe onmoontlik dit is dat God kan bestaan. Jare later het hierdie man ‘n Christen geword. Wanneer hy ook al gevra is waarom hy hom bekeer het, het hy met een woord geantwoord: “DNS.”

Binne-in elke mens is hierdie verstommende ontdekking genaamd DNS. Dit is ‘n unieke identifiseerder so akkuraat dat iemand skuldig bewys kan word van ‘n misdaad as sy DNS by die misdaadtoneel gevind word. DNS is kompleks, tog kan dit uit iets so eenvoudig soos ‘n haar geneem word. Daarin, het wetenskaplikes ‘n “genetiese kode” ontdek met biljoene stukkies inligting, wat as dit aaneen verbind word, uniek is aan daardie persoon.

Wie het hierdie ongelooflike verskynsel geskep wat die verstand te bowe gaan? Wie het die unieke genetiese kode van elke mens geken sedert Adam en Eva? Slegs God. Hy het nie net elke haar op ons hoofde getel nie, maar het ons unieke DNS op elke string gedruk. Dit is wat die ateïstiese wetenskaplike nederig gemaak het: die manjifiekheid van ‘n Skepper en sy ewig-indrukwekkende skepping.

God ken die DNS van elke mens wat ooit geleef het – en Hy weet hoe om dit te rekonstrueer wanneer Hy ons op die laaste dag opwek. Dit behoort alle vreemde leerstellinge wat onstaan het oor die jare oor die opstanding tot ruste te laat kom. Sommige sê daar kan nie ‘n liggaamlike opstanding wees vir mense wat veras of bloedige dode gesterf het nie; hulle kan nie verstaan hoe God dit kan doen nie. Dit is in werklikheid ons verbeeldings wat nie die heerlikheid van God kan peil nie. Ons breine is te beperk.

Ons weet wel dat die liggame wat God uit die graf sal bring, veranderde liggame sal wees. Sommige dink ons sal geeste wees, maar die Bybel maak dit duidelik ons sal liggaamlik opgewek word. Alles beskadig, afgekap of vernietig, sal binne ‘n oogwink herstel word. Krom mense sal regop loop. Die blindes sal sien. Diegene wat gebreklik is van geboorte af of in oorloë gesneuwel het, sal heelgemaak word. Hulle DNS sal volmaak gemaak word deur hulle Skepper!

Ek dink ook aan die opstanding wanneer ek hartseer, eensame mense sien tydens Kersfees.

Wanneer ek met die straat af stap in New York om melk of ‘n koerant toe gaan koop, breek my hart oor dit wat ek sien. Alkoholistiese mans in hulle 60’s en 70’s lê op die sypaadjie en slaap. Hulle het dekades deurgebring in ‘n hel wat hulleself gemaak het, terwyl hulle die meeste dae nie weet waar hulle is nie. Ek sien desperate jong verslaafdes na hulle dwelmsmous toe hardloop wanneer hy opdaag. Hulle gaan soos slaapwandelaars deur die lewe met geen hoop, geen toekoms nie en probeer net hulle volgende dosis in die hande kry. Op die hoek, sien ek prostitute, nie ouer as 18 jaar oud nie, wat hulle oë afvee terwyl hulle huil oor wat van hulle lewens geword het.

Ek wil vir hulle almal vertel: “Daar is ‘n nuwe wêreld aan die kom – ‘n wêreld sonder sonde, armoede of siekte. Dit is waarom Hy gekom het – om ons na die nuwe wêreld te neem wat Hy geskep het. Dit is ver bokant enigiets wat ons kan verstaan. Jou Koning kom om jou te kom haal!”

In die tussentyd, is die opstandingslewe reeds vir ons beskikbaar – in hierdie lewe. Ons is beloof, “Sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel” (Romeine 6:4).

Laat ons hierdie Kersfeestyd, hierdie Christusfeestyd ‘n opstandingsingesteldheid hê. Soos Paulus vermaan, “Maar, broeders, ek wil nie hê dat hulle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring...Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:13-14, 18).

Ek weet op daardie dag sal ek ‘n halfmiljoen bekeerde dwelmverslaafdes van dwarsdeur die aarde ontmoet...dosyne verslaafdes en prostitute wat Jesus aangeroep het om hulle te red en te verlos...en my eie familielede wat voor my gegaan het. Wat ‘n vreugde sal dit wees. Opstanding – dit is waarom Hy gekom het!

“En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?...Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 15:54-57).