Kokende Bitterheid

David Wilkerson (1931-2011)

Amerikaners het blykbaar die gewoonte om kookterme te gebruik om emosies te beskryf. Byvoorbeeld, ‘n ontstelde persoon word beskryf as iemand wat stoom en ‘n mens wat kwaad is, word na verwys as kokend.

Dink aan die kwaai, beskuldigende woorde wat Josef se broers na hom geslinger het. Satan het hulle hierdie woorde in die mond gelê, omdat hy wou hê dat Josef aan bitterheid moes vashou en jare deurbring om te prut in die pot van woede, wraak en haat. Dank God, Josef het dit alles neergewerp – hy het nie toegelaat dat dit prut nie!

Stoom of prut jy oor een of ander kwetsende dinge wat iemand vir jou gesê of aan jou gedoen het? Is die vlam van woede wat jou stadig tot kookpunt bring steeds brandend, maar steeds weier jy om dit af te skakel? Indien wel, is jy in gevaar van oorkook. Te veel Christene het geen lewe nie, net omdat hulle vashou aan ‘n pruttende bitterheid wat die emosies laat kook.

Die Woord van God waarsku teen bitterheid herberg: “Jaag die vrede na ... en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:14-15). ‘n Bitter mens sal nie na raad luister nie; ‘n bitter Christen sal nie eens na God se Woord luister nie. Waarom nie? Omdat woede die hart teen waarheid verblind.

Geliefde, die suurdeeg in jou hart is op hierdie oomblik hard aan die werk. Jy stook dalk nie die vuur in die oond nie. Maar, uiteindelik, sal die suurdeeg rys. En, binne een oomblik van woede, sal dit die brood van ongeregtigheid voortbring!

Dit beskryf die lewens van talle Christene vandag. Hulle het ‘n bietjie suurdeeg in hulle harte – een klein woedetjie of hartseer waarmee hulle nooit afgereken het nie – en hulle wil dit nie erken en hulle bekeer nie. In plaas daarvan, ignoreer hulle dit eenvoudig. Hulle glo dalk dat hulle harte rein en onskuldig is. Hulle sal dalk selfs getuig, “Ek het niks teen daardie mens nie. Ek stoom nie oor iets nie.”

Maar die suurdeeg van bitterheid is steeds aan die werk in hulle – en dit raak elke gebied van hulle lewens. En die tyd sal kom wanneer dit weer na die oppervlak sal kom en oprys soos gesuurde brood – omdat nie daarmee afgereken is nie!

Die Heilige Gees sal jou in staat stel om die vure van irritasie wat jou teister af te skakel. Vertrou op Christus se vergifnis en laat Hom jou in staat stel om elke struikelblok teen vervulling en volwassenheid deur Hom te oorwin.